Verlede maand
Skuim teiken begraafplaas
raadop: Vader Richard Dunsdon sê dis die tweede keer dat die heining geknip is.Foto: basil davids  ~ 

ROBERTSON. – Vandale het die Anglikaanse kerkhof se heining hier ’n tweede keer gestroop.

Vader Richard Dunsdon sê hy en sy gemeente is baie ontsteld daaroor.

Dunsdon sê voordat die kerkhof­ omhein is, was dit in ’n haglike toestand.

Hy vertel: “Die Langeberg-munisipaliteit het die begraafplaas skoon gemaak.

“Boewe het die heining daarna gebreek en die begraafplaas gevandaliseer.

“Ons het toe ’n span saamgestel­ om die begraafplaas met ’n sterker tipe draad te omhein.”

Maar, sê Dunsdon, skaars nadat die heining opgerig is, het vandale die drade daarvan geknip.

Dit was ook knap nadat die gemeente ná 30 jaar die tradisie van die Akkerdiens op die oggend van Paas-Sondag hervat het.

Hy sê: “Ek en die gemeente is ontsteld en teleurgesteld.

“Ons verwag ook dat die nuutste omheining sekerlik ook binnekort geknip sal word.”

Dunsdon sê hy kan nie verstaan dat booswigte net geen agting het vir die laaste rusplek van die geliefdes van verskeie gemeentes wat daar begrawe lê nie.

Hy sê: “Begraafplase was eens op ’n tyd van die mees gerespekteerde en rustigste gebiede van ’n dorp, maar deesdae nie meer nie.

“Dis nou so onveilig dat families die grafte nie net sommer enige tyd kan besoek nie.

“Ons wil die begraafplaas weer opknap sodat dit netjies kan wees vir die vieringe van die kerk se 150ste bestaansjaar.

“Ons vertrou dat ons as gemeenskap die gereg kan help om dié misdaad teen ons begraafplaas hok te slaan om ons erfenis te beskerm.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters