Verlede maand
Skrywer wys ander die kuns
KREATIEF: Elias P. Nel (links agter) met die deelnemers aan die kursus.  ~ Enrico Claassen

WORCESTER. – Die creative­ juices vloei terwyl aspirantskrywers werskaf om hul kuns te bemeester.

’n Werksessie wat deur die bekende Suid-Afrikaanse kreatiewe skrywer en digter Elias P. Nel (67) aangebied word, vind tans op ’n plaas buite die dorp plaas.

Nel, ’n boorling van Verneukpan in die Noord-Kaap, sê hy het veral ’n sterk voorliefde vir kontreikuns, kortverhale en dramatekste.

Van sy werke is ook al in Nederland en Suriname gepubliseer en van sy dramatekste is al by die KKNK en elders opgevoer.

Nel, ook ’n voormalige projekbestuurder by die ATKV, woon die afgelope 53 jaar in Kraaifontein.

Inskrywings

Die werksessie word deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis geborg.

Nel sê die idee vir die werksessie het sy ontstaan gehad toe hy in Julie vanjaar met werwingswerk vir kortverhale­ en gedigte begin het.

Volgens hom het hy meer as 140 inskrywings ontvang. Die meeste is uit die Wes-Kaap, maar mense tot so ver as die Noord-Kaap het ingeskryf.

Nel sê daar is steeds vandag ’n mark vir Afrikaanse kreatiewe skryfwerk.

Volgens Nel sien hy baie potensiaal in die studente wat tans sy werksessie bywoon.

Een van sy studente is Neville Pedro (36) van die plaas Welgemeen in Prince Alfred Hamlet buite Ceres.

Pedro, ’n pa van een, sê: “Ek was ’n introvert op skool en skryf was vir my ’n spreekbuis. Ek het dit gedoen deur digkuns, kortverhale en musiek.”

Volgens hom het hy geen formele opleiding in skryfkuns nie.

Hy sê hy is in die wolke dat hy vir die werksessie gekies is.

Pedro het in 2019 sy eerste digbundel, Psalms van ’n Plaaskind gepubliseer.

Elize Willems (52), ’n huisvrou van Garies in die Noord-Kaap wat ook gekies is om die werksessie by te woon, sê alles het begin toe sy ’n gedig geskryf en dit op Facebook geplaas het.

Sy sê Nel het die gedig gelees en toe het hulle begin gesels oor die werksessie.

“Ons almal leer baie van mekaar by die werksessie. Hier is baie talentvolle mense.”

Volgens Willems werk sy tans aan haar tweede digbundel getiteld Splinter Jou Woorde.

Haar eerste digbundel, Die Liefde in Ink, is in 2019 gepubliseer.

Jacolene van Huyssteen (19) van Worcester sê sy is baie dankbaar sy is gekeur vir die werksessie.

Sy is ’n tweedejaar-BA-student in geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Van Huyssteen sê sy skryf al gedigte sedert gr. 4.

Sy het egter nog nie van haar gedigte gepubliseer nie

Die werksessie duur tot môre.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters