21 dae gelede
‘Skrap dié plan!’
gatvol:Woedende inwoners ontwrig gister die raadsvergadering.FOTO’S VERSKAF  ~ 

WOEDENDE inwoners het Donderdag ’n raadsvergadering by die Drakenstein-munisipaliteit se geboue ontwrig.

Raadslede sou by dié meeting gedebatteer het oor die omstrede nuwe deernis­beleid.

Son het Woensdag berig die uitvoerende burgemeester, Conrad Poole, het hom van dié policy gedistansieer.

Hy het gesê hy was nie betrokke by die besluit om die beleid in werking te stel nie. Die verandering beteken bejaardes kwalifiseer nie meer vir ’n exemption op munisipale tariewe nie.

Honderde mense het Woensdag reeds by die munisipale geboue teen dié plan betoog.

Jerome Fredericks, ’n march-organiseerder, sê: “Ons stel nie belang in ’n hersiening nie. Ons soek nie ’n debat nie.

“Die mayor het gesê hulle sal die kwessie (deernisbeleid) debatteer sodat hulle dit kan hersien. Ons soek nie ’n hersiening nie. Die hele ding moet geskrap word.”

Moutie Richards, leier van die opposisie, sê die DA-beheerde munisipaliteit is te blameer vir gister se gebeure.

Hy sê: “Ons as die ANC het die munisipaliteit al die afgelope drie maande gewaarsku om nié die policy te verander nie. Ons het hulle gesê die mense sal dit nie aanvaar nie.

“Maar hulle het nie geluister nie. Dis hulle eie skuld dat dinge nou só uitdraai.

“Hulle moet dit nie aanpas nie. Dit moet heeltemal geskrap word.”

Volgens Richards het die munisipaliteit met die nuwe beleid gekom sonder om die inwoners daarin te ken.

“Daarom is die mense so kwaad, want hulle is nie ingelig nie,” verduidelik Richards.

“Die munisipaliteit het niemand ingelig nie.

Betaal

“Die mense het net state gekry van rekeninge van R1 900 wat hulle moet betaal.

“Die hele beleid moet geskrap word en die munisipaliteit moet proper consultations met die mense hou.

“Deernisgeld is nie die munisipaliteit se geld nie.

“Die munisipaliteit kry subsidies vir deernis van die nasionale regering.

“Dis die nasio­nale regering se geld wat hulle só hanteer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters