23 dae gelede
Skote ontstig
vies: Danzel van Zyl stem nie saam met die verkeersbeamptes se gedrag nie.  ~ 

GRABOUW. – Twee spietkops wat na bewering op ’n kar met insittendes geskiet het, het die inwoners hier warm onder die kraag.

Die moer van mense in Glen Elgin in Molteno net buite Grabouw het lelik gestrip toe die verkeers­beamptes die kar laas naweek agternasit.

Danzel van Zyl, ’n prokureur en gemeenskapsleier, vertel hulle is glad nie beïndruk met hoe die verkeersbeamptes die situasie gehanteer het nie.

Volgens Van Zyl het drie spietkops, elk in ’n kar, die driver agternagesit oor hy weggejaag het.

Van Zyl sê die driver wou die speedies ’n slip gee oor sy kar se lisensie verval het.

“Die roadblock was op ’n openbare pad en toe jaag hy weg tot op ’n private pad.

“Die cops het hom agternagesit. Hulle het seker versterkings ingeroep, want skielik was daar drie karre.”

Een van die insittendes van die motor wat anoniem wil bly, sê hy het vir sy lewe gevrees toe die cops skielik op hulle begin skiet.

Hy vertel: “Ek het vir die driver gesê hy moet maar die kar stop, want die mense skiet nou op ons.

“Ons het toe die kar net daar gelos en te voet by die boord in gevlug.

“Hulle het weggery en ons nie eens agterna­gesit nie.”

Van Zyl sê as gevolg van die skietery het die inwoners in dié klein gemeenskap oproerig geraak.

Die inwoners het gekeer dat die spietkops die woongebied inry.

Die polisie is ontbied en dinge het verder uitgerafel.

Daar is met rubberkoeëls op die oproeriges geskiet, sê Van Zyl.

Kenny Africa, die Wes-Kaapse verkeershoof, het teen Son ontken die verkeersbeamptes het skote afgevuur.

Africa sê: “Daar is geen skote afgevuur nie. Die streek­bestuurder is besig om verder ondersoek in te stel.”

Intussen het ’n informant aan Son verklap die Theewaterskloof-munisipaliteit se verkeersafdeling kan tans nie enige boetes oplê of padblokkades hou nie.

Dit is na bewering oor die bestuurshoof nie met die raad kon ooreenkom oor ’n kontrak nie.

Hugo Geldenhuys, munisipale woordvoerder, sê die proses van die aanstelling van ’n diensverskaffer vir verkeersdienste is in ’n gevorderde stadium.

“Dit sal nie ’n impak op die munisipale begroting of op die inkomste hê nie.

“Die normale munisipale wetstoepassingsaktiwiteite gaan steeds voort.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters