3 maande gelede
Skool weer veilig
HARDE WERK: Die skool se opsigters fix gister die openinge in die skool se draadomheining.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Leerders en personeel van die Laerskool De Villiers het rede om breed te smile nadat hulle skool se omheining herstel is.

Son het onlangs berig hoe tikkoppe die skool se draad­omheining verlede jaar in die skoolvakansie gesteel het.

Die ouers was vies hieroor en het gesê dis die werk van tikkoppe.

Van die ouers het gal af gegaan toe hulle hul kinders skool toe geneem het vir die eerste dag van die kwartaal en sien die heining is gesteel.

Die ouers het nog aan Son gesê hulle kinders gaan nie veilig wees by die skool nie.

Die onderwys­departement het toe belowe hy sal geld skenk sodat die omheining so spoedig moontlik herstel kan word. Maar dit het toe nooit gebeur nie.

Gister het van die opsigters self ingespring en die omheining gefix.

Die skool se hoof, Russel Sampson, het gister opgewonde aan Son gesê dat sy personeel self besluit het om die omheining reg te maak.

Sampson sê die omheining wat gestroop is, het vir hulle ’n groot probleem geraak.

Volgens Sampson het mense begin om ’n deurloopplek van die skoolgrond te maak.

“Derhalwe het ons gevoel dat dit verder sou uitkring, en daarom moes ons daadwerklik optree,” het Sampson gesê.

Ingesamel

Sampson voeg by sowat twee weke gelede het die skool ’n familiedag aangebied.

Met die geld wat toe ingesamel is, het hulle splinter­nuwe heinings aangekoop. Die skool is nou ten volle beveilig.

Gister ná skool wou die leerders weer kortpad vat huis toe, maar het toe besef dat die omheining weer aangebring is.

Hulle moes toe maar omdraai en, soos almal, van die skoolhek gebruik maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters