Verlede maand
Skool se draad nog nie reg
Onveilig: Die leerders vat nou kortpad sedert die draadheining gesteel is.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Tot nou toe is die draadheining van ’n plaaslike laerskool nog nie gefix nie.

Ouers is nog elke dag bekommerd dat hulle kinders iets kan oorkom by die Laerskool De Villiers.

Son het ’n dag nadat die skole heropen het, berig oor Laerskool De Villiers se heining wat oor die feestyd gestroop is.

Sommige ouers het nog aan Son gesê dis die werk van tikkoppe.

Hulle bespiegel die draad is by ’n scrap metal-plek verkwansel vir tikgeld.

Intussen vat leerders nog daagliks kortpad deur die oop heining en vermy die skoolhek.

Laas Donderdag het ’n skoolouer, Samuel Februarie, weer by Son gekla omdat die heining nog nie herstel is nie.

Februarie sê hy vrees vir die leerders se veiligheid en met die heining weg is die risiko dat kinders ontvoer kan word, soveel groter.

Weghol

“Ons lees elke dag oor hierdie tipe dinge, maar daar moet seker eers iets gebeur – dan gaan die onnies en die hoof wakker skrik,” waarsku Februarie bekommerd.

’n Leerder sê hy sien nog daagliks hoe van die kinders gedurende pouses weghol na die nabygeleë woonbuurt om brood te gaan haal; dan kom dan weer terug skool toe.

Volgens die leerder hoop hy hulle skool se draad word so gou moontlik herstel sodat almal veilig kan voel.

Russel Sampson, die skoolhoof, sê die elemente wat die draad gesteel het, is binne die klein gemeenskap.

Volgens Sampson is dit reeds by die departement van onderwys en Safe Schools aangemeld, én by die polisie.

Sampson sê die departement het gevra hoeveel draad hulle benodig, maar kon egter nie sê wanneer die skoolheining gefix gaan word nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters