27 dae gelede
Siek laitie sterf in kerk
Adriaan Bostander FOTO VERSKAF  ~ 

ROBERTSON. – ’n Siek klonkie het in die kerk gesterf terwyl daar vir hom gebid is.

Adriaan Bostander (7), ’n graad 1-leerder aan die Laerskool Vergesig, het verlede Sondag in ’n kerkdiens in Ashton gesterf.

Adriaan se gebroke ouma Roseline Jantjies, wat hom van kleins af grootgemaak het, sê met trane in haar oë dat hy van verlede maand af baie siek begin word het.

Dokters kon niks meer vir hom doen nie en die familie het gesê dat daar ’n demoon in Adriaan was.

Jantjies sê Adriaan het net begin kla van sy keel wat baie seer is.

Volgens haar het Adriaan by die dag al hoe sieker begin word en het hy vinnig gewig begin verloor.

Infeksie

Jantjies sê Adriaan was binne ’n paar weke uitgeteer en kon nie meer loop en praat nie.

Sy sê hulle het Adriaan weer dokter toe geneem.

“Die dokter het toe gesê dat infeksie sy hele liggaam aangeval het en Adriaan is toe onmiddellik in die hospitaal opgeneem.

“Hy is toe onlangs ontslaan, want die dokters kon niks meer vir hom doen nie.”

Jantjies sê hulle het hom toe na ’n kerk in Ashton geneem.

Terwyl daar vir hom gebid is, het hy sy oë oopgemaak en wou hy toe self opstaan.

“Daarna het Adriaan net uitgeroep ‘Jesus’, en toe saggies in die arms van die leraar gesterf,” het Jantjies gesê met trane wat oor haar wange rol.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
8 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters