Verlede maand
‘Siek’ dak is rede dat talle skuif
Skade: Die Radie Kotze-hospitaal is vandeesweek ontruim nadat daar bevind is dat die hoofgebou se dak herstel moet word.  ~ FOTO VERSKAF

PERSONEEL en pasiënte by die Radie Kotze-hospitaal in Piketberg is vroeër vandeesweek ingelig om voor te berei vir onmiddellike ontruiming van gedeeltes van dié gesondheidsfasiliteit.

Dit kom ná Maandag se roetine-inspeksie deur die direktoraat vir fasiliteit- en infrastruktuurbestuur van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.

By die roetine-inspeksie vir beplande opknappingswerk by die hospitaal wat deur die direktoraat se ingenieurs en argitekte bygewoon is, was 27 pasiënte by die hospitaal ingeboek.

Toestand

Die hospitaal, wat sedert die 1940’s in diens is, het ’n kapasiteit van 33 beddens.

Leensie Lötter, kommunikasiebeampte vir die Weskus-distrik, sê daar is bevind dat die dak van die hoofgebou in ’n ernstige, kommerwekkende toestand is.

Volgens Lötter is die hospitaal se bestuur dadelik ingelig om voor te berei vir ’n dringende ontruiming.

“Die Weskus-distrik se bestuurspan is ingelig oor die moontlike gevaar wat die huidige struktuur inhou en dat die geaffekteerde areas ontruim sal word.

“Dit sluit die noodsentrum van die fasiliteit in.

“Reëlings is reeds getref om die noodsorg so gou moontlik in ’n veiliger deel van die fasiliteit te akkommodeer.

“Die noodsentrum is geskuif na die ou teaterkompleks van die hospitaal en die nuwe tydelike ingang is aan die noordelike kant, die agterkant van die fasiliteit,” vertel Lötter.

Lötter bevestig dat inwoners van die Bergrivier-sub-distrik nog steeds na die hospitaal kan gaan vir nooddienste en sorg.

Lötter sê ook dat inwoners wat elders in die hospitaal geakkommodeer kan word, alreeds geskuif is na die verskillende sale.

“’n Klein aantal pasiënte kan op die oomblik nie na ander sale in die hospitaal geskuif word nie en sal na omliggende fasiliteite geskuif word.

“Dit sluit in die Lapa Munnik-hospitaal in Porterville, Vredenburg-hospitaal, Citrusdal-hospitaal en Swartland-hospitaal in Malmesbury.

“Die hospitaal se bestuur ontvang tans bystand vanaf die Weskus EMS om pasiënte na ander fasiliteite te vervoer.

“Families van pasiënte sal telefonies ingelig word na watter hospitaal pasiënte geskuif sal word.”

Lötter sê dat die omvang van die skade en herstelwerk aan die beskadigde dak beoordeel sal word sodra die ontruiming afgehandel is.

“Na gelang van die erns van die probleem sal ’n tydsraamwerk vir die veilige terugkeer na die hoofgebou bepaal word.

Afsonderlik

“Ons vra verskoning vir die ongerief wat die ontruiming veroorsaak het. Ons verseker alle personeel en pasiënte dat dit ’n noodsaaklike voorsorgmaatreël is om die veiligheid van alle personeel, pasiënte en besoekers aan die fasiliteit te verseker.

“Die herstel van die dak se struktuur in die betrokke gebied word afsonderlik van die beplande opknappingswerk gedoen en word as dringend beskou.

“Die beplande opknappings aan die fasiliteit sal eers in 2022 begin soos oorspronklik beplan.

Vir enige navrae oor pasiënte­ wat geskuif word, kan die Radie Kotze-hospitaal by 022 913 1175 gebel word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters