3 maande gelede
Si: party stakers werk weer
spanning: Gunter Williams (links) van SI en Neil Ackers van Showusa gluur mekaar aan. Die CCMA se Joseph Williams is die man in die middel.Foto: george april  ~ 

MOORREESBURG. – Afgedankte werkers van Swartland Investments (SI) het die afgelope week aangemeld vir diens.

Dis nadat die Shosholoza Workers Union of South Africa (Showusa) en SI ’n ooreenkoms bereik het.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) het die ooreenkoms gebroker.

Son het verlede maand berig dat ontevrede werkers van SI hier begin strike het.

Die werkers, almal lede van Showusa, het ’n saak in die arbeidshof gemaak.

Dié het egter beslis die strike was onbeskermd, waarna werkers afgedank is.

Die afgedankte werkers is in ’n buitengewone stap toegelaat om ’n verhoor in die stadsaal hier by te woon.

SI skop egter vas en weier om 28 afgedankte werkers wat gestrike het, weer in diens te neem.

Rondgegooi

SI se verteenwoordiger, Gunter Williams, en Neil Ackers van Showusa moes eerstens aan die CCMA se kommissaris, Joseph Williams, verduidelik waarom die werkers in die eerste plek gefire is.

Beskuldigings is rondgegooi, waarna Joseph verduidelik het watter foute die partye in die strike gemaak het.

Joseph het gesê: “Die werkers ly en wil beklemtoon dat die partye moet saamwerk om ’n ooreenkoms te bereik.

“Nóg ’n saak in die arbeidshof gaan lank vat en iemand gaan uiteindelik die duur hofkostes moet betaal.”

Ná verskeie onderbrekings en sessies agter geslote deure is die werkers uiteindelik ingeroep.

Die goeie nuus vir hulle was dat 48 afbetaalde werkers Maandag weer kon aanmeld vir diens.

Daar was egter nie vreugde vir die 28 werkers wat steeds buite die hekke moet bly nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters