Verlede maand
Shopping-hel

GRABOUW. – In die oë gesit – en dít deur ’n polisiekaptein ...

Estelle Parnell (44) het saam met haar antie Maria Lakay (65) en neef Jonathan Jonkers (41) gaan shopping doen toe hulle na bewering voor almal deur cops verneder is.

Lakay sê sy het Parnell om hulp gevra om winkels toe te gaan, sowel as vir Jonkers, omdat hy ook sy shopping wou doen.

Maar haar hart het amper gaan staan toe dié dag in ’n nagmerrie verander.

Jonkers se dag van shopping het na bewering geëindig met hom wat agter in ’n polisievên gegooi word, terwyl Parnell voor ’n hele groep mense en polisiemanne beskuldig word daarvan dat sy ’n draer van die corona-virus is.

“Jonathan was klaar met sy shopping en het buite gaan wag om ander ook ’n kans te gee.

“Estelle het by my gebly om te help sien, want ek het ’n klomp siektes en makeer baie hulp.

“Toe ek by die till staan, hardloop iemand na my toe en sê hulle het Jonathan in die vên gelaai.”

Lakay is vinnig daar uit sonder haar groceries (waarvoor sy reeds betaal het) om te gaan kyk wat buite aangaan.

“Ek het probeer verduidelik aan die cops dat hy my help, maar die poeliesman was arrogant.”

Respek

Jonkers sê hy het ook aan die cop verduidelik hoekom hy daar staan, en hulle het hom eers uitgelos.

“Maar toe hulle begin om die oumense uit te vloek en skel, het ek gevra dat hulle met respek met die grootmense moet praat.

“Toe word ek ook met die mond attack en hulle smyt my in die vên soos ’n dier.”

Nadat Lakay dit reggekry het om die storie aan die cop te verduidelik, het hulle polisiestasie toe gegaan.

Maar hiér het dinge weer lelik geraak.

Onbewus daarvan dat Parnell altyd saam met Lakay is, het die kaptein weer op haar saak gespring.

Parnell sê die kaptein wou weet hoekom sy met ’n masker loop.

“Ek het probeer verduidelik dat ek saam met my antie is en ek help haar. Toe hulle hoor ek is saam met my antie, was dit skielik ja, ek het die corona-virus.

“Hy’t dit kliphard gesê voor almal, en toe is dit asof almal wegbeweeg van my af en my skeef aankyk.”

Parnell sê die beampte het nie opgehou nie en na haar antie en neef gedraai en hulle begin uitvloek.

“Sy presiese woorde was: ‘Julle gemorste gaan voertsek! Julle het corona.’

“Ek weet nie hoekom hy dit gesê het nie, want dis naamskending en hy misbruik sy powers.

“Ons vat die virus baie ernstig op. Dis g’n joke nie.”

Almal het ’n saak teen die beampte gemaak.

Brig. Vishnu Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van naamskending by die Grabouw Polisiestasie gemaak is en ondersoek word.

Hy sê: “Die klaer is ’n 44-jarige vrou wat beweer dat ’n polisiebeampte haar uitgewys het as ’n corona-virus-draer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters