Verlede maand
Sewe vas ná sakeroof in Stellenbosch
Polisie-uniform
Die verdagtes het die uniforms aangetrek en hulle voorgedoen as polsiebeamptes.  ~ Verskaf

DIE Wes-Kaapse blitspatrollie het sewe verdagtes vasgetrek wat Vrydagoggend ‘n besigheid in Stellenbosch beroof het.

Luidens verslae het verskeie verdagtes, sommige geklee in polisie-uniform, ‘n supermark in Birdstraat, Stellenbosch, om 08:45 binnegekom. Hulle het hulle as polisie voorgedoen en die plek deursoek vir dwelms. 

Toe die eienaar van die supermark agterdogtig raak, het een van die verdagtes hom glo aangerand, die personeel gedreig en weggekom met bokse sigarette en R90 000 in kontant.

Die gewapende verdagtes het van die toneel gevlug met die gesteelde goedere, maar die polisie het vinnig aksie geneem, hulle agternagesit en die rowers in ‘n shack in Mfuleni vasgetrek. Die polisie het die sigarette en die kontant teruggevind. 

Drie vuurwapens is ook gekry. Een van die vuurwapens is in 2018 in Claremont gesteel.

Die verdagtes, tussen die ouderdomme van 30 en 59, verskyn Maandag in die hof op aanklagte van sakeroof, onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en gesteelde eiendom. 

Hulle gaan ook voorkom oor hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters