Verlede maand
"Seuns kan ook verkrag word"
seun
Geen liefde: ’n Ma van ’n tienerseun sê haar seun is deur ’n grootvrou verkrag. Foto ter illustrasie  ~ 

HOE kan 'n 14-jarige vir 'n volwasse persoon toestemming gee om met hom seks te hê? 

Dis geen grap as jy uitvind jou minderjarige tienerseun word deur 'n grootvrou vir seks gebruik nie. 

Daarom het die ma van Robertson 'n saak van statutêre verkragting teen ’n 24-jarige vrou, wat na bewering nou swanger is van die klong, gemaak. 

Die 32-jarige ma sê sy het in Februarie gehoor haar seun is in ’n verhouding met die jong vrou. 

"Ek het haar tot by die polisie geneem en haar gevra om my kind uit te los. Sy het eers alles ontken, maar toe ek haar sê dat my seun my alles vertel het, het sy erken dat sy hom sien en belowe om hom uit te los.”

Maar die vrou het nie by haar woord gehou nie en die seun steeds gekontak. In die boodskappe soebat sy die kind hom met haar te praat en weer na haar toe te kom. 

"Ek het aan die einde van Februarie gehoor sy sien nog my kind. Op 20 Mei het die storie by my uitgekom dat sy swanger is van my kind. Ons (die seun se ouers) het ’n saak van statutêre verkragting aanhangig gemaak."

Volgens kol. André Traut, ’n polisiewoordvoerder, ondersoek die Robertson-polisie ’n saak van statutêre verkragting. 

"Die vrou het einde Mei in die landdroshof in Robertson verskyn."

Die mamma sê wat haar verder grief oor die aangeleentheid is dat die dorpenaars giggel oor die saak. 

"Selfs by die polisiestasie word daar gelag. Maar as dit ’n dogter was wat nou swanger was van ’n volwasse man, dan was dit anders. Dan het mense anders daarna gekyk. 

"Seuns kan ook verkrag word."

Davine Cloete, 'n menseregte-aktivis, sê die mammie moet moed hou en voortgaan met die saak. 

"Die wet stel soms teleur. Waar is die wet wat ons moet beskerm. Daar is nie so ’n ding dat ’n volwasse met ’n kind in ’n verhouding kan wees nie.” 

Die seun woon nou by familie buite die dorp. Sy ma het reeds reëlinge getref dat hy berading moet kry. 

whatsapp
Smeek: Dit is van die boodskappe wat die volwasse vrou na bewering aan die seunskind gestuur het.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters