3 maande gelede
Seun werk hard aan rugbydroom
AMPER DAAR: Maxwell Fortuin by sy spanbestuurder, Milton Fredericks.Foto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

DIE buiteland wink vir ’n kranige rugbyspeler van die Paarl.

Maxwell Fortuin (18) is vir die Tony Stoops-o. 18-rugbyspan gekies.

Hiervoor samel hy al sedert April geld in om in Engeland en Wallis te toer.

Maar oorsee gaan is duur en hy het nog nie genoeg nie.

Wat Fortuin se insluiting by die span so buitengewoon maak, is dat hy met ’n gebrek aan sy een hand gebore is.

Dit het hom egter nie gekeer om sy talent in rugby na hoogtes te voer nie.

Hy hou weer die komende Vrydag, 2 Augustus, ’n karaoke-fondsinsameling by die Dalweide Primêre Skool in Groenheuwel, Paarl.

So, stiek yt, wys jou sang chops en ondersteun sommer ook ’n plaaslike talent.

Maxwell droom al sedert 2017 om saam met die groep oorsee te gaan rugby speel.

Hy speel al van gr. 10 af vir die eerste span van sy skool, Klein Nederburg Sekondêr, ten spyte van die gebrek aan sy linkerhand.

Hy is op laerskool geboelie en verkleineer oor sy hand.

Vasbyt

Maar dié dinge het hom net meer laat vasbyt en gemotiveer om te verbeter.

Die karaoke-fondsinsameling begin 19:00 tot laat en toegangsgeld van R30 sal gevra word.

Vir verdere inligting of om te help, kontak Marshalline Martin by 062 735 5667.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters