22 dae gelede
Seun gestenig
Smart: Sophia Cloete sê haar seun het nie verdien om so wreed te sterf nie. FOTO VERSKAF  ~ 

GRABOUW. – Inwoners is erg geskok nadat ’n tienerseun op die vooraand van Jeugdag met bakstene gestenig en met ’n baseball bat pap geslaan is.

Denovan Cloete (18) van Rooidakke in Grabouw is na bewering deur ’n groep 15-jarige laities van die Sideview-woonbuurt vermoor.

Dít nadat daar verlede jaar ’n onderonsie tussen die twee groepe laities van Rooidakke en Sideview by die skool was.

Maar wat nie sin maak nie, is dat Denovan nie eens saam met die laities op skool was wat met mekaar baklei het nie.

Hy het met sy lewe geboet bloot omdat hy in Rooidakke gebly het, sê ’n gemeenskapsleier, Isabel Bailey.

Bailey sê Denovan het elke dag nederig ’n bakkie sop by haar kom haal.

Sy is platgeslaan oor sy wrede dood, sê sy.

Bailey vaar uit: “Ons as gemeenskap gaan saam staan om die ding hok te slaan. Ons gaan nie toelaat dat hier gangsters in ons plek verder moorde pleeg nie. Dit was een van my kinders wat elke dag sop kom haal het. Hy het altyd so mooi na my geluister.”

Volgens Sophia Cloete, Denovan se ma, het haar seun se moordenaars ’n boodskap uitgestuur dat hulle revenge gaan neem vir die bakleiery laas jaar tussen hulle en die ander laities.

’n Hartseer Cloete sê: “Hulle het gesê hulle kom vir Rooidakke se kinders. Dis maklik vir hulle om dit te sê. My kind was nie eens saam nie, maar hulle gryp hom en slaan hom. Dink hulle dis ’n regte ding wat hulle doen?”

Cloete sê sy is gebroke oor sy haar seun op só ’n wrede wyse moes verloor.

“Ek voel niks vanoggend nie. Ál wat ek weet, is dat ek gebreek is.

“Ek was daar toe hy sterf en dit het my seergemaak. Hy was ’n baie sagte seun en het nooit met ander baklei nie.”

Die Grabouw-gemeenskapspolisiëringsforum, die ouers en seuns wat in die voorval betrokke was het Woensdagoggend met die polisie vergader.

David Williams, plaaslike GPF-voorsitter, het bevestig seuns van twee verskillende areas, Sideview en Rooidakke, was in ’n gang fight betrokke.

Verloor

Williams het laat hoor: “Die seuns van Sideview het Rooidakke toe gekom om die geveg voort te sit.

“Die seun wat vermoor is, het die seuns van Rooidakke probeer help en het sy lewe verloor.”

Son soebat die polisie al dae lank vir kommentaar oor die voorval, maar teen druktyd het die cops stééds nie van hulle laat hoor nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters