17 dae gelede
Seun doen dit vir sy familie
HOOPVOL: Cee-Jay Engelbrecht sê daar is niks wat hom sal keer om goed te doen in sy eksamen nie.  ~ Peter Abrahams

“EK WIL en ek moet.”

Dís elke oggend Cee-Jay Engelbrecht (20) se woorde aan homself.

“Wanneer ek dié woorde sê, staan ek op, maak gereed en gaan skool toe.

“Die prys is hoog en ek doen dit nie net vir myself nie, ek doen dit vir my familie,” sê die saggeaarde jong man.

Cee-Jay is ’n matrikulant in Hoërskool Charleston Hill in die Paarl en is tans een van die massas matrieks wat hul eindeksamen skryf.

Vir Cee-Jay, wat saam met sy ma, Tania Jansen, twee broers en ’n tweejarige suster woon, is dit die belangrikste eksamen van sy lewe.

Hulle woon in die informele nedersetting Lovers Lane, wat soos baie ander regoor die land sy eie uit­dagings bied.

Vir Cee-Jay gaan dit nie oor waarvandaan hy kom nie. Hy is net gefokus op waar hy sal opeindig.

“Om matriek te behaal, is belangrik vir almal. Dit vat jou weg van al die swaar dinge. Dit vat ’n bietjie van jou pyn weg en maak jou mense bly.

“Dis ’n moet vir my omdat ek ’n voorbeeld moet wees vir my broers en suster en vir soveel ander jong mense in ons gemeenskap.

“Ons het baie swaar grootgeword en nie een van ons familie het al matriek behaal nie. So, vir my is dit ’n voorreg en dit is waarom ek my beste sal gee,” vertel hy.

Studeer

Cee-Jay glo hy moet klaar maak, al vat dit ook jare.

Hy het ook ander verantwoordelikhede in die huis.

“Ek het ’n streng roetine. Ek maak skoon en van 11:00 tot 18:00 gaan sit ek in die biblioteek om te studeer.

“Daar is dit doodstil. Niks trek my aandag af nie en dit help ook dat hulle iets gee om te eet. Daar is ook aircon. Hier by ons is daar nie sulke goed nie,” lag hy.

TRANE VAN BLYDSKAP: Cee-Jay sy suster Kaylin Africa (2) en sy ma Tania Jansen. Foto: Peter Abrahams

Cee-Jay glo nie eintlik in drome nie, maar hy wil graag ’n polisieman wees.

“Ek wil mense help soos al die mense wat ons gehelp het. Dit beteken so baie.

“Ek wil dit vir my familie doen, sodat ons hier kan uitkom. Waar ons vandaan kom, is moeilik. Dis nie lekker nie.”

Cee-Jay sê hy word baie deur sy ma se positiewe uitkyk op die lewe beïnvloed. “Sy hou my op my tone. Sy herinner my dat vriende nie altyd belangrik is nie. Ek moet myself eerste sit en op my toekoms fokus. Sy hou my so besig dat ek nie tyd het om ingesluk te word deur ander dinge nie.”

Tania sê sy is baie trots op haar seun en dink soms sy is in ’n droom as sy sien hoe ver sy en haar kinders gekom het.

“Ek dink aan die dae wat ons op straat geloop het en in dromme gekrap het vir iets om te eet. Ons het ou appels opgetel net om die hongerte te verlig, maar tog het ons deur dit gekom. Ek is dankbaar,” vertel sy.

“Ons was twee jaar op die straat. Ek wil nie hê my kinders moet dit weer ervaar nie. Ek is streng omdat ek hulle liefhet en nie wil hê hulle moet seerkry nie.

“Ek wil die beste vir hulle hê. Ek huil elke dag, want ek is so trots. Die trane kom uit ’n plek van blydskap.”

Aanmoedig

Cee-Jay meen elke persoon het sy stil plek, ’n plek waar jy kan wegkom van moeilike omstandighede.

“Ek wil mense aanmoedig om daai plek te gebruik om hulself aan te moedig. Dit hang van jou af om ’n verandering te maak. As jy nie wil nie, sal ander in jou familie ook nie ’n verandering wil maak nie.”

MIK HOOG: Cee-Jay sê om matriek te behaal, is ’n hoogtepunt in sy skoolloopbaan en hy sien uit na sy toekoms. INLAS: Cee-Jay, sy suster, Kaylin Africa (2), en sy ma, Tania Jansen. Foto: Peter Abrahams

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters