2 maande gelede
’Serial killer’ wag op bed
VERTRAGING: Brian Mudyiwayana se saak is weens verskeie faktore uitgestel.  ~ Basil Davids

SWELLENDAM. – Die opspraakwekkende hofsaak waarin die 33-jarige Zimbabwiër Brian Mudyiwayana teregstaan op verskeie aanklagte van moord, sal nie vandag kan voortgaan nie.

Die vermeende reeksmoordenaar se lawyer, Omar Arend, het Vrydag aan Son gesê sy kliënt dring steeds aan op ’n bed in die Valkenberg- Psigiatriese Hospitaal in Kaapstad.

Hy voeg by Mornay Julius, staatsaanklaer, sterk boonop in ’n hospitaal se waaksaal aan nadat hy Covid-19 opgedoen het.

Arend sê Mudyiwayana is nog op ’n waglys om ’n kopdokter te sien.

Mudyiwayana beweer hy moes ’n maand gelede by sy aankoms in Valkenberg op die grond slaap.

Die rondgaande hooggeregshof het Mudyiwayana na die kliniese hospitaal verwys sodat hy sielkundig geëvalueer kan word.

Hy het glo ook nog nie met ’n kopdokter gepraat nie, aldus Arend.

Mudyiwayana moet hof loop vir talle moorde wat van 2016 tot 2019 op verskeie plekke gepleeg is. Hy staan egter net pa vir ’n paar van dié moorde.

Bybel

’n Cop het ná sy arrestasie aan Son gesê Mudyiwayana het baie moorde gepleeg en hy het ál sy slagoffers op dieselfde wyse om die lewe gebring.

In elke hofsaak het Mudyiwayana met ’n Bybel in die hand absoluut geen emosie getoon nie. Hy erken dat hy sy slagoffers om die lewe gebring het, maar pleit onskuldig.

“Ek was nie by my volle positiewe toe ek die mense vermoor het nie,” het Mudyiwayana in sy bekentenis gesê.

Dit het ook vroeër in die hof uitgekom dat Mudyiwayana merke aan sy lyf het.

Arend het dit aan die hof voorgehou dat sy kliënt se pa hom in sy kinderjare mishandel het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters