2 maande gelede
Selle toe pleks van saligheid?
Opgestres: Die kopstampery met die kerk het Daleen Hendricks nou in die hospitaal laat beland.  ~ Verskaf

WITTEWATER. – Dis ’n skande!

Só sê inwoners oor ’n goedgeefse vrou wat nou ’n hofsaak teen haar het.

Daleen Hendricks (49) en haar vrouegroep wou as ’n goeie gebaar die bejaardes met ’n geskenk en ’n Kersete bedien. Dit het gebackfire.

Hendricks het in Oktober verlede jaar ’n aansoek aan die kerkraad gerig.

Sy wou die gemeenskapsaal, wat aan die Morawiese Kerk behoort, graag gratis vir die geleentheid gebruik.

Sy vertel: “Op 4 November bel ek om te luister hoe ver die kerkraad met hulle besluit gekom het. Eerw. October sê toe hulle het nog nie die kwessie bespreek nie.

“Ek’t voortgegaan met die reëlings en die uitnodigings uitgestuur. Ek was positief dat ons die saal sou kry.”

Intussen het sy besluit dat sy maar huur sal betaal.

“Van toe af kry ek net ontwykende antwoorde. Ek het later maar die huurgeld vir die predikant geneem, maar sy sê toe sy het niks met die saal te doen nie.

“Op 22 November, ’n dag voor die funksie, bel ek die polisie en ek sê toe ek gaan die slot van die saal afhaal, want ek kom nêrens met die kerkraad nie en als is gereël – selfs die kos.

“Ek het die slot die volgende oggend verwyder. Daar was ook net een skroef aan.

“Ses dae ná die ete kom haal die polisie my by my werk.

“Die kerkraad het my toe aangekla vir inbraak.

“My 16-jarige seun moes toekyk hoe hulle my fingerprints en foto’s vat.”

Hendricks moes op 3 Desember in die hof verskyn.

Die staatsaanklaer wou buite die hof skik. Die kerkraad se vereiste was toe dat sy die kerk vir ’n onbepaalde tyd moes skoonmaak.

Hendricks sê sy weier om dit te doen, want hulle wil haar ver­neder.

Hendricks het vroeër die maand geld ingesamel om aan leerders van gr. R tot gr. 7 skryfbehoeftes te verskaf, asook geskenkies en iets om te eet.

Volgens haar is sy deur dieselfde storie met die kerkraad. Sy het die kinders toe maar buite die kerk in die koelte bederf.

Hendricks beweer dis die predikant en drie van die kerkraadslede wat haar so afdruk. Die res van die kerkraad ondersteun haar, sê sy.

Vete

Volgens Hendricks kom die vete tussen haar en die predikant al van 2015 af aan toe die leraar haar daarvan beskuldig het dat sy agter die leraar se man aan is.

’n Oom van 80 het aan Son gesê almal is ongelukkig oor wat die kerkraad aan Hendricks doen.

’n Vrou van 75 sê sy woon al 40 jaar in die dorp en nie een van die leiersfigure daar het al so iets vir die bejaardes en die kinders gedoen nie.

Dit was duidelik dat eerw. Ursula Carolus nie baie lus was om oor die storie te praat nie. Sy het Son verwys na die voorsitter van die kerkraad, Albie Louw. Sy het darem gesê dat sy geen persoonlike issues met Hendricks het nie.

Louw sê: “Die kerkraad het nie tyd gehad om Hendricks se saak te bespreek nie.

“Sy het die saal sonder ons toestemming gebruik, daarom het ons ’n klag teen haar gemaak.”

Die hele kwessie het Hendricks so onder stres dat sy Dinsdagoggend in die hospitaal in Piketberg opgeneem is. Sy moet Woensdag weer in die hof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters