9 dae gelede
‘See, grond hier rond nou myne’
KAALVOETSTRYDER: Nolan “Ori Kwagga” Groenewald by die stuk see wat hy vir homself toegeëien het. Hy het ook ’n stuk grond geclaim.  ~ Foto Verskaf

BUFFELJAGSBAAI. – ’n Desperate visserman het grond en ’n gedeelte van die see sommer vir homself toegeëien.

Nolan Groenewald, oftewel Ori Kwagga, sê hy voel nou soos ’n ware prins.

Kwagga glo die huidige brandpunt van die moorde op boere hier in die land wat nou weer skielik in die nuus is, kan nie met sy issue vergelyk word nie. Hy sê hy soek nie bloed nie; hy soek net geregtigheid.

Kwagga was een van die freedom fighters wat vir jare tronk toe gepos is.

“Ek baklei oor land en see,” het Kwagga hom vroeër sterk uitgespreek.

Nadat hy uit die tjoekie gekom het, het hy weer jare baklei om sy stukkie grond en ’n deel van die blou waters van die see te hê. Kwagga claim nou sy stukkie grond en see sonder enige misdade of moorde terug.

Hy was al baiekeer met die topbestuur van die Hermanus-munisipaliteit in ’n geveg oor hy glo die grond en see behoort aan sy mense.

’n Omgekrapte Kwagga het gister uitgevaar en gesê hy loop nou al die afgelope drie dekades kaalvoet na die munisipale kantore om vir sy mense te veg.

“Ons mense se grond is van ons geneem, en die see voor onse deure behoort mos immers aan ons,” het Kwagga bygevoeg.

Gereageer

Kwagga het gesê hy het dit ook op sy Facebook page duidelik gemaak dat hy nou die baas is van die grond en die see voor sy deur.

Son het die afgelope week e-posse na die munisipaliteit gestuur vir kommentaar. Teen druktyd het hulle nog nie daarop gereageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters