20 dae gelede
Saron vergaan
betrokke: Die vergadering word goed bygewoon.Foto’s: Kallie smit  ~ 

SARON. – “Ons kinders is gangsters. Ons kinders is van die pad af. Ons sit met die hande in die hare.”

Met dié woorde het die hoof van die Primêre Skool Saron, Hubert Lesch, verlede week ’n vergadering met besorgde ouers begin.

Dié noodvergadering is Donderdag gehou om op­lossings te kry vir die euwels wat handuit ruk by die skool.

Ouers, onderwysers en kerkleiers het dit bygewoon.

Lesch het vertel leerders van so jonk as 10 stuur grootmense naweke om vir hulle wyn te gaan koop.

Hy sê: “Ons onderwysers word tot onder hulle ma se rok uitgevloek.

“Die kinders behoort aan gangs soos die Graveyard Boys, Young Ones en Pizza Boys. Twee kinders is onlangs kliniek toe geslaan op die skoolgrond.

“Ons moenie toelaat dat godsdiens uit ons skole verdwyn nie en kinders moet weer by die Sondagskool uitkom.”

Meisies so jonk as nege vertel hoe lekker hulle by die skool vry en onder mekaar baklei om ander girls se outjies af te vat.

Graffiti soos “Jou ma se p**s” en “Jou n**i” moet daagliks van toiletmure ver­wyder word.

’n Gemeenskapsleier en voorsitter van die skool se beheerliggaam, Steven­ “Lange” Joachims, het oorlog verklaar teen die drug merts.

Joachims beweer die kinders is klante van die drug dealers wat die dorp besoek.

Hy beweer die kinders rig

sinkhokke op hulle ouers se jaarts op en misbruik dan drank en dwelms daarin. Hulle seks mekaar en diere.

Joachims sê hy het al twee sinkhokke wat laities in hulle ouers se jaart opgerig het, afgebreek.

Hy vertel: “Kinders kom gedrug skool toe, lag die onderwysers uit en bevoel die meisiekinders onder die banke­. Dan sê hulle vir die onderwyser: ‘Jy sê nie vir my nie.’

“Dwelmbase moet weet ons is op pad na hulle toe,” dreig hy.

“Kinders wat onnodig uit die skool bly, se ouers gaan hof toe gevat word.”

Lesch en Joachims word geprys vir die moed wat hulle toon om die euwels te ver­oordeel en te beveg.

’n Ouer sê: “Baie ouers weet nie eens van die gruwels waarby hulle kinders betrokke is nie.

“Ons is só bly dat die skool nie soos baie ander dié goed onder die mat invee nie.

“Ouers moet hulle kinders by die huis opvoed sodat die onnies hulle werk kan doen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters