Verlede maand
Saak weens woedende gemeenskap uitgestel
tulbagh landdroshof,reagan gertse
Honderde mense het buite die Tulbagh-landdroshof byeengekom vir die hofverskyning van die beskuldigde in die Reagan Gertse-saak.  ~ Verskaf

DIE eerste hofverskyning van Reagan Gertse (8) se vermeende moordenaar is weens 'n woedende gemeenskap, wie in groot getalle buite die Tulbagh-landdroshof vergader het, tot 2 Junie 2020 uitgestel.

Die beskuldigde kon weens die gemoedere van gemeenskapslede wat hoog geloop het nie op aanklagte van ontvoering, verkragting en moord verskyn nie.

Wendy Philander, lid van die Wes-Kaapse parlement, het die hofverrigtinge bygewoon en sê: "Daar is 'n gevoel van moedeloosheid en verslaentheid van die Tulbagh-gemeenskap.

"Dis seer om 'n familie en gemeenskap in soveel pyn te sien. Die persoon langs jou lyk ordentlik maar kan jy die een vertrou."

Reagan se halfnaakte lyk is Sondagoggend tussen bosse aan die buitewyke van Tulbagh gevind.

Daar was 'n oop wond aan die agterkant van sy nek.

Ricardo Davids, Reagan se ma, Louisa Gertse, se kêrel, en 'n vriend Hendrik Swems het eerste op Reagan se lyk afgekom.

Jakobus Petoors (54) is Sondagoggend gearresteer. Hy is sowat vier maande gelede op parool vrygelaat, nadat hy 7 van sy 14 jaar vir die verkragting van 'n kind uitgedien het.

Toe Petoors oor Reagan se verdwyning gekonfronteer is, het hy gesweer dat hy van niks weet nie.

Philander vra: "Hoeveel hofverskynings, waar onskuldige kinders die slagoffers is, gaan daar dan nou nog bygewoon moet word. Hoeveel petisies gaan nog geteken moet word en kerse aangesteek moet word. Hoeveel optogte gaan nog gehou moet word.

"Die president van ons land gaan iets daadwerklik moet doen want so kan dit nie aangaan nie. Ons kan nie meer week na week langs oop kindergrafte staan nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters