3 maande gelede
Saak vat vlam
GROOT SMILES: Christopher Martin voor die Tulbagh-hof saam met die Gatvol Pay Back the Money-groep wat saam met hom werk om David Cupido agter tralies te bêre.  ~ Foto Verskaf

’N STASIEBEVELVOERDER wat as agent vir David “Oompie” Cupido opgetree het, het Vrydag in die Tulbagh-landdroshof ’n draai gaan loop vir ’n interdik waarvoor hy aansoek doen.

Lt.kol. Charlie Meiring soek ’n interdik teen Christopher Martin, wat nou saam met die Valke werk om Cupido en ál sy agente agter tralies te sit.

Cupido het meer as 12 000 beleggers se geld vir sy omstrede 4th Power Investments-maatskappy ingevorder – met die hulp van verskeie agente.

Volgens Martin het hy Meiring in Oktober genader oor hy aanvanklik wou hê hy moet saam met hom en die Valke werk.

Maar pleks van instem, was Meiring onbeskof en het hy hom glo gedreig, het Martin in ’n affidavit gesê.

Martin vertel: “Hy’t my gevra of ek die wet ken.

“Hy’t my ook gevra wat my adres is sodat hy my kan wys wat hy met my sal doen.

“Ek was glad nie onbeskof met hom nie en ek het ’n getuie wat saam met my was wat dit kan bevestig.

“Al wat ek wou hê, is dat ons saam moes werk om Oompie agter tralies te sit.”

Martin sê hy het toe alles net daar gelos en was dus verbaas toe hulle in Desember ’n voorlopige interdik op hom beteken.

In Meiring se aansoek sê hy Martin beskuldig hom daarvan dat hy beleggers se geld vir sy eie gewin geneem het.

Voorgestel

Hy erken hy het as agent vir Cupido opgetree nadat dié hom genader het.

Volgens Meiring het ene mnr. Jaftha hom aan 4th Power Investments voorgestel en nadat hy in die maatskappy belê het, het Cupido hom genader om gelde.

In Meiring se aansoek vra hy die hof vir ’n permanente interdik oor hy voel Martin sleep sy naam deur die modder.

In sy aansoek sê hy: “Daar is WhatsApp-video’s in die sosiale media wat die respondent oor my versprei.

“Ek sal hierdie aan die hof voorlê.

“Dit is duidelik dat die respondent die sosiale media gebruik om my te teister.

“Hierdie video’s is ’n bewys daarvan.”

Martin sê hy het glad nie verwag Meiring sal so ver gaan om ’n interdik teen hom te kry nie.

Hy sê hy kon dit eers net laat verbygaan, maar hy gaan nie toelaat dat Meiring oor hom loop nie.

Feite

Martin sê hy staan die interdik teen en hy weet Meiring gaan die geveg verloor.

Hy vertel: “Ek het alles in swart op wit en ek bring feite voor die hof. Ek suig nie hierdie goed uit my duim nie. Hy wat Meiring is, weet net nie hy sal nou seker R50 000 moet bymekaarmaak vir hierdie aansoek nie.

“Aan die einde van die saak gaan hy nog my prokureurskoste óók moet dek.”

Meiring het Vrydag sonder ’n prokureur by die hof opgedaag.

Die saak is tot 29 April uitgestel vir betoë.

Toe Son Meiring kontak, het hy gesê die saak is in die hof en hy gaan nie nou kommentaar lewer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters