2 maande gelede
Rusplek al skaarser
ERG: Suzette Naidu, bestuurder van Willy’s & Gallico, sê daar’s veels te min grafte beskikbaar.  ~ 

UNDERTAKERS in die Drakenstein-area is agter met begrafnisse oor begraafplase oorvol is.

Families moet hul geliefdes nou veras, selfs al is dit teen hul wense.

Son het met Wilfred Heswick, eienaar van Willy’s & Gallico Funeral Services, oor dié uitdagings gesels.

Heswick doen elke week sowat 60 begrafnisse. Noudat daar nie genoeg grond beskikbaar is nie, is daar lang vertragings.

Hy sê hy wil graag hê die gemeenskap moet weet van al dié uitdagings. Hy verduidelik: “Eerstens het ons as ondernemers nie beheer oor die beskikbaarheid van grafte nie. Ook het ons nie magtiging oor beskikbare dae vir die uitvoering van ’n begrafnis nie.

“Ek moet erken, die Drakenstein-munisipaliteit doen sy bes om ons in die pandemie tegemoet te kom.”

Heswick sê daar is talle reëls wat die munisipaliteit ingestel het wat ’n impak het op ondernemers en hul kliënte.

OU WAY: Mense is nie happy dat hulle nou moet veras pleks van begrafnis hou nie. Foto’s: PETER ABRAHAMS

Hy verduidelik: “Vanaf Maart 2020 word geen begrafnisse oor naweke toegelaat nie. Slegs ’n sekere getal begrafnisse per ondernemer word daagliks toegeken.

“Ons is ook meegedeel die Wellington-begraafplaas het geen nuwe grafte beskikbaar nie en daar is slegs spasie vir nuwe babagrafte en heropenings.

“Dié dilemma plaas ekstra druk op die Paarl se Parys-begraafplaas, want Wellingtonners moet ook nou daar begrawe word.”

Heswick sê hulle het baie versoeke aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig om ekstra vergunning oor naweke te maak, en meer op ’n daaglikse basis, om druk te verminder, maar met geen positiewe uitkoms of terugvoer nie.

“Ons het begrip vir reëls wat ingestel is, maar dit maak ons werk as ondernemers baie moeilik en plaas ons onder geweldige druk.

“Op een week kry ons sowat 60 begrafnisse. Dis onrealisties om begrafnisse op verlangde tye te akkommodeer weens die beperking wat aan ons gestel is.

“Die groot getal Covid-19-sterftes plaas ook ’n groot gesondheidsrisiko op ons werknemers.”

Heswick sê families is reeds getraumatiseerd en dis hartverskeurend as ondernemers nie hul geliefdes ter ruste kan lê nie.

Genoeg PLEK? Die Drakenstein-munisipaliteit sê daar is nog spasie in sy begraafplase.

Aanvaar

Gerald Esau, hoof van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sê die begraafplase is nie vol nie. Daar is ’n paar duisend grafte beskikbaar in groter begraafplase soos Parys, Hermon en Saron.

Hy sê: “Die munisipaliteit ondersoek ook die moontlikheid van ’n nuwe begraafplaas wat spasie vir die volgende 10 jaar behoort te voorsien.

“By die twee dormante begraafplase, Houtstraat (’n Moslem-begraafplaas) en Bosmanstraat (’n historiese begraafplaas), word nuwe besprekings nie aanvaar nie, maar daar is nog toegang tot babagrafte, ekstra diep grafte en bespreekte plotte. Ons voorsien nie dat Covid-19-sterftes ’n groot impak sal hê nie. Ons hanteer sowat 20 begrafnisse elke weekdag. As daar meer besprekings is, staan ’n begrafnis oor tot ’n volgende beskikbare datum.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters