8 dae gelede
‘Rugbyspelers rand seun aan’
baie ontevrede: Roseline August sit by haar seun Jowin.Foto: KALLIE SMIT  ~ 

WOLSELEY. – Om deur ’n frisgeboude rugbyspeler met sy rugby­stewels in die ribbe getrap te word, is nie lekker nie.

Só getuig Jowin August (15) nadat twee rugbyspelers hom verlede Saterdag glo aangerand het.

Jowin, ’n sportgeesdriftige wat self aan landlope by sy skool deelneem, vertel: “Ek en my vriende het die laaste game tussen ons tuisspan en Robertson gekyk.

“Skielik sien ons hoe ’n klong van so 12 jaar oud ’n sak van die skouer van ’n meisie van die besoekers af gryp en weghol.

“Ons en ’n klomp toeskouers het hom agterna gesit. Ons sien toe hoe hy ’n selfoon uit die sak haal, die sak op die grond neergooi en toe met die foon weghardloop.

“Ek tel toe die sak op en toe ek my kom kry, slaan ’n blanke speler my met sy vuis in my gesig en nog ’n wit speler trap my in my ribbe met sy stewels.

“Nóg ’n man wou ’n klip op my kop gooi. My vriendin sê toe vir hulle dit was nie ek wat die sak gevat het nie en dat ek net wou help.

“Maar toe wou die man met die klip my daarmee gooi. Toe hardloop ek en my vriendin na my niggie se huis toe.

“Vriende het my ma gaan roep en sy het my toe kom haal.”

Jowin is per ambulans na die Ceres-hospitaal geneem waar hy behandel is. Hy en sy ma het ’n klag van aanranding teen die twee mans by die polisie ingedien.

Frederick Kraukamp, voorsitter van die Robertson Rugby Football Club, sê hy weet van die voorval.

Die vrou wat van haar sak beroof is, is die meisie van een van die spelers wat by die voorval betrokke was.

Kraukamp het verduidelik: “Die spelers is net die klub se verantwoordelikheid wanneer hulle op die veld is. Die voorval het ná die game gebeur en dis buite die beheer van die klub.

“Die spelers is aangespreek, maar verder moet die gereg sy gang neem.”

Roseline August (47), Jowin se mammie, sê: “Ek is baie ontevrede oor Jowin so onnodig aangerand is.

“Hy is ’n stil kind en hy is nou nog besig om van sy beserings te herstel.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters