23 dae gelede
Rugbyklub tackle winterkoue
Magies vol: ’n Klomp tevrede kleintjies pose by van die lede van die Robertson Town-rugbyklub. Die manne deel sop uit aan inwoners van verskeie woonbuurte.  ~ 

ROBERTSON. – Die Robertson Town-rugbyklub deel dié winter sop uit onder minder­bevoorregtes in verskeie woonbuurte.

Die klub meen noudat die bibberweer weer hier is, is heerlike sop net die ding om leë mae te vul en die lyf ’n bietjie op te warm.

Die lede van die klub het die soppotte onlangs sommer vroegoggend al laat prut.

Talle kinders en hulle ouers­ het na die sopkombuis gestroom en bekers lekker volgemaak.

Veral die kinders het ’n lang ry gevorm. Die manne met die blou jerseys het self opgeskep.

Robertson Town se voor­sitter, Lionel Hendricks, sê dis lekker vir hulle om so baie mense gelukkig te maak en te weet dis danksy die klub.

Hendricks sê trots: “Ons gebruik van die klubgeld om terug te ploeg in die gemeenskap.”

Bankvas

Hy sê dis grootliks ook omdat die inwoners die span by elke wedstryd ondersteun.

Of hy nou tuis of weg speel, hulle staan altyd bankvas agter die span.

Hendricks se hulle sal dié winter gereeld in verskeie woonbuurte sop uitdeel.

Die kinders het aan Son gesê hulle is sommer lekker verras en sien uit na die volgende keer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters