Verlede maand
Rugbyklub reik hand uit na oues
geskenk: Zaid Railoun en Janine de Lange by Sen-Cit Resthaven in die Strand.Foto: ian baard  ~ 

HELDE op die rugbyveld, maar ook helde wanneer daar nie rugby gespeel kan word nie.

Dís die St. George’s-rugbyklub in die Strand.

Die lede het ’n hart vir hul gemeenskap en ’n passie om mense in hierdie ongekend moeilike tye by te staan.

Janine de Lange, voorsitter van die klub, en Zaid Railoun, een van die bestuurslede, het Maandag skoonmaakmiddels afgelewer by die Sen-Cit Resthaven, ’n tehuis vir bejaardes in die Strand.

Sopkombuis

Volgens De Lange het families en vriende wat by die klub betrokke is die goed bymekaargemaak om die tehuis in hierdie tyd van nood te help.

Son het ook verneem dat Sen-Cit ’n inwoner en personeellid weens Covid-19 aan die dood afgestaan het.

Benewens die skenking is die klub besig om ’n sopkombuis in Broad­lands Park te bedryf.

Groot nood heers in dié woongebied.

De Lange vertel ook dat ’n groep vroue dit nou al ’n paar jaar as hul sosiale gemeenskapsprojek bedryf.

Dan is daar ook die jaarlikse Krismispartytjie in Desember.

Daar word meer as 2 500 kinders vermaak met lekkernye en ’n geskenk.

De Lange sê tans met die Covid-19-krisis moet hulle meer sop maak om aan die behoefte te voldoen.

Wat die rugby betref, sê De Lange mense sit en wag met ingehoue asem dat die rugbyseisoen weer op dreef kom.

Sy sê hulle het in die sosiale media ’n groep gestig waarop die spelers en ondersteuners vertel wat hulle Saterdae doen.

Luidens die blad kan die mense nie wag dat die seisoen weer begin nie.

Die voorsitter het ook haar medelye uitgespreek met die familie van Grant de Lange, wat Sondagaand grusaam gesterf het toe hy deur ’n gangster doodgeskiet is.

De Lange sê die slagoffer was ’n groot ondersteuner van die rugbyklub.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters