9 dae gelede
Robertson verloor ‘yster’
WEER COVID-19: Lionel Hendricks het diep spore in sy gemeenskap getrap.  ~ Foto Verskaf

DIE Robertson Town-rugby-klub en sy ondersteuners is in rou ná die dood van sy voorsitter, Lionel Hendricks.

Hendricks (48) het ná ’n lang battle sy stryd teen Covid-19 verloor.

Hy het nog voordat hy in die hospitaal opgeneem is, op sy Facebook-blad bekend gemaak hy is positief getoets vir die gevreesde virus.

In die sosiale media is klub­lede, vriende, familie­lede en ondersteuners nog gevra om vir Hendricks te bid.

Hendricks se broer, Peter, het aan Son gesê: “Lionel was soos die dorp se president.”

Peter sê daar is só baie om oor sy broer te sê, maar hy sal eerder nie nou veel hieroor wil uitwei nie.

Passie

“Lionel was ’n man vir sy gemeenskap wat nooit geskroom het om uit sy pad te gaan om enigeen te help nie, nevermind wie sy of hy was nie,” het ’n emosionele Peter laat hoor.

Lionel was ’n besigheidsman wat voluit vir sy passie geleef het.

“Hy was ’n landbouman van formaat, en ons gaan die leisels by hom oorvat.”

Op die Facebook-blad Robertson RFC staan daar: “Dit is met groot hartseer dat ons moes verneem van die sterfte van ons voorsitter, Lionel Hendricks.

“Mnr. Hendricks het oor die jare diep spore getrap in Boland Rugby, byna op alle vlakke. Hy was ’n administrateur by uitstek en rugby was in sy bloed.”

Danny Eyssen, lid van Boland Breë-Langeberg Rugby, sê ’n groot held het in Boland Rugby geval.

Begrawe

“Rus in vrede, Lionel. Ons sal jou onthou en wat jy vir Boland Rugby, Robertson Town as voorsitter en ander klubs waar jy gedien het, beteken het,” sê Eyssen­.­

Hendricks word vandag begrawe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters