2 maande gelede
Rioolwater sommer bol
KEELVOL: Elsie Klaassens sê inwoners het nou genoeg gehad.  ~ Kallie Smit

WORCESTER. – ’n Probleem met rioolwater wat in die strate by dreine uitstoot, het inwoners hier nou moerig omdat hulle sê hulle kom nêrens met die munisipaliteit nie.

Son het vroeër vanjaar oor dieselfde probleem berig nadat die gemeenskap van Avian Park daaroor gekla het.

Elsie Klaassens, ’n komiteelid vir wyk 21, sê inwoners wat by haar kla, wonder seker al hoekom daar nie aandag aan die probleem gegee word nie.

Klaassens word ook deur die rioolprobleem geraak omdat die area waarin sy en die beswaardes bly, in ’n laagliggende gebied geleë is en onder die waterlyn lê.

’n Erg omgekrapte Klaassens sê: “Wanneer die rioolwater by die dreine opstoot, vloei als in ons rigting. Die stront loop voor ons huise verby.

“Ons het meer as ’n maand gelede weer vir die hoeveelste keer by die raadslid gekla, maar daar word net verskonings opgedis soos dat daar probleme met die trokke is of die pomp by die rioolaanleg wat opgepak het.

“Daar is ook al beloftes gemaak dat die rioolstelsel opgegradeer gaan word, maar niks gebeur nie.

“Die raadslid was ’n tyd terug by ouma Vuyelwa Poni wat in Kwêvoëlstraat bly, en hy het haar belowe om aandag aan die probleem te gee. Sy kan soms nie haar huis verlaat nie.

Uitskep

“Hier is drie huise langs mekaar wat só erg met strontwater omring is, dit lyk of dié huise op ’n eiland geleë is.

“Mens ry gly-gly met jou kar in die strate af, so baie stront is daar in die water. Kindertjies speel in die rioolwater en dit hou ’n gesondheidsgevaar vir hulle in.”

’n Oom wat die stront met ’n blik gesit en uitskep het, sê: “Die stink water kan nog gaan, maar ek kan nie die k*k vat nie.”

Klaassens sê wanneer daar gekla word, word daar net verwysingsnommers verskaf. Maar dis ál wat gedoen word, sê sy.

Torique Wehr, raadslid vir wyk 21, het weereens dieselfde verweer soos voorheen gehad deur te sê die werkers doen nie hul werk nie.

Lorries

Wehr sê: “Die mayor gaan die werkers se job cards trek om te kyk watter werk gedoen is. Ek het nie geweet jy kan die job cards trek nie.

“Ek sal van nou af hul job cards check en kyk of hulle hul werk gedoen het.

“Ons het net twee lorries en hulle moet ook diens doen in die omliggende dorpe.”

Wehr sê hy het al gedreig om sy werk te los, want hy kan nie bekostig dat mense so suffer nie. Hy sê hy sal die kwessie met die burgemeester bespreek nadat die wykskomitee Maandagaand vergader het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters