20 dae gelede
Riool loop erg in die K-strate
ONAANVAARBAAR: Van die strate in Avian Park is vol strontwater.  ~ Foto Verskaf

WORCESTER. – Inwoners van Avian Park sê hulle is moeg van rou riool wat soos ’n rivier in hul strate loop.

Die strate wat veral geraak word, is onder meer Kuikenstraat, Katlagterstraat en Kalkoenstraat.

Tumelo Maridi, ’n proporsionele ANC-raadslid, sê die inwoners van die gebied is raadop, want die Breedevallei-munisipaliteit doen niks om die kwessie aan te spreek nie.

Maridi sê die strontwater spruit uit verskeie dreine in die gebied wat al langer as ’n maand verstop is.

Hy sê: “Ek kan nie eens begin om te dink hoe die mense daagliks met dié permanente stank lewe nie.

“Die k*kwater het nou al hul daaglikse brood geword, want die water vloei elke dag deur die strate.”

Maridi voeg by hy het die saak verlede week in die munisipale geboue met die Breedevallei-munisipaliteit se burgemeester, Antoinette Steyn, bespreek.

Hy sê egter niks het sedertdien verander nie.

Maridi moan oor Steyn: “Sy het gesê sy sal daarna kyk. Maar daar is nog geen verbetering nie.

“Mense moet nog onder die situasie bly. Die hartseerste van alles is die bejaardes en kinders, wat die kwesbaarste in die gemeenskap is en wat nog daagliks aan die gesondheidsrisiko blootgestel word.

“Ek kan nie eens begin om te dink hoe die inwoners dit regkry om onder sulke haglike omstandighede te lewe nie.

“Daar is ’n huis in Kuikenstraat wat deur die vuil water omring is. Die hele erf is vol k*kwater. Dis onaanvaarbaar.

“Ons eis dat die munisipaliteit die kwessie onmiddellik aanspreek en dit oplos sodat ons inwoners ’n gesonde en veilige lewe kan lei.”

’n Woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, Hannelie Botha, het gister bevestig dat hulle bewus is van die probleem.

Botha sê verder: “Die rede vir die probleme was ’n transformer wat gebrand het, toe was die krag af en die pompe het foutief geraak.

“Intussen is die stasie herstel en riool kan weer weggepomp word.

Opstoot

“Ons spanne is tans in die area besig om skoon te maak en ook om seker te maak daar is nêrens meer riool wat opstoot nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters