14 dae gelede
Rekeninge skok!
KAN JY GLO? Krag- en watermeters is al toegegroei.  ~ Foto Verskaf

TERWYL baie mense kop bo water probeer hou in die pandemie, is krag en water vir sekere inwoners in die Swartland ’n groter kopseer.

Talle inwoners sukkel om by te hou met die verskriklike hoë water- en kragtariewe van die munisipaliteit.

Volgens Amber Booysen, ’n gemeenskapsaktivis en lid van die Swartland-aksiegroep, word mense se krag gereeld afgesit weens agterstallige rekeninge.

Booysen sê inwoners se rekeninge is gebaseer op skattings en meters word nie gelees nie.

“Baie het hul werk verloor tydens die pandemie en die mense­ kan nie die hoë re­ke­ninge bekostig nie.

“Meer as 200 huishoudings se krag is in Oktober laas jaar afgesny.”

Booysen voel iets is glad nie lekker nie, want die syfers lyk nie reg op mense se rekeninge nie.

Teresa Boois (51) van Moorreesburg sê sy het haar kragrekening van meer as R3 000 in Desember klaar betaal nadat sy agterstallig geraak het tydens die lockdown.

Onderhandel

Volgens Boois het sy weer in Januarie ’n verskriklike hoë rekening van R1 600 ontvang.

Sy moes laas week gaan onderhandel omdat haar krag afgesny is.

Boois sê sy verstaan nie hoekom haar krag só baie is nie, want sy het nie baie elektriese toestelle wat sy gebruik nie.

Boois se man is die enigste broodwinner wat tweeweekliks ’n bietjie geld verdien.

Die 43-jarige Anneline Brown van Malmesbury het in Oktober ’n waterrekening van R10 000 ontvang vir haar huis wat leeg gestaan het.

Brown sê toe sy navraag doen, het hulle ondersoek ingestel en gesê die toiletpot lek en dis die rede vir die hoë waterrekening. “Hulle sou my korting gee sodra die verslag kom,” vertel Brown.

Sy sukkel steeds om hulp te kry met die rekening en sê sy weier om vir iets te betaal wat sy nie gebruik het nie.

“Elke keer as ek by die munisipale kantore kom, word daar gesê hulle soek nog die verslag en ek moet wag daarvoor.”

Brown is ontevrede en wil weet hoe dit moontlik is dat hulle só baie water kan gebruik as daar nie mense bly nie.

Nou is haar krag afgesit oor sy nie die rekening kan betaal nie.

Gekoppel

Intussen sê Preston Sheldon, die hoof van regs- en kredietbeheer by die munisipaliteit, hul rekords toon dat hulle ’n aantal inwoners gehelp het deur redelike en aanvaarbare betalingsreëlings te tref.

“Let daarop dat hierdie inwoners se meters verbind bly, of as dit ontkoppel is, is dit weer gekoppel,” ver­duidelik Sheldon.

“Die Swartland-munisipaliteit is altyd bereid om verbruikers, veral die kwesbaarste in ons gemeenskappe, by te staan en gaan voort met die uitnodiging vir enige inwoner wat hulp benodig, om ons kantore te besoek.”

Sheldon voeg by dat hul span gepoog het om met inwoners met lang uitstaande rekeninge kontak te maak, meestal sonder enige sukses.

Volgens hom word baie verbruikers gehelp deur die munisipaliteit se gevestigde pogings.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters