3 maande gelede
Rekeninge skiet hoogte in
BUITENSPORIG: Cathy le Fleur is ongelukkig oor haar hoë rekening.  ~ Foto Verskaf

INWONERS van Piketberg is hoogs ontsteld oor buitensporige diensrekeninge.

Cathy le Fleur (62) beweer die munisipaliteit het in Desember en Januarie nie hul meters kom lees nie, maar in Maart moes hulle verskriklik hoë rekeninge betaal.

Le Fleur se rekening beloop meer as R3 000.

Volgens Le Fleur het ’n groep vroue al met die burgemeester gaan praat. Dié het be­lowe hy sal ondersoek instel. Die vroue sê hulle wag tot vandag toe op sy terugvoer.

“Die munisipaliteit is besig om ons te vernietig,” laat Le Fleur hoor.

Sy sê sy voel ook gefrustreerd omdat hulle graag wil weet hoekom hulle nou slegs die helfte krag kry.

“As jy R100 se krag koop, kry jy net R50 se krag.”

Inwoners wil hê dat die persoon by die rekeningafdeling ondersoek moet word.

Volgens Le Fleur het die burgemeester self op ’n geleentheid aan hulle gesê die munisipaliteit is besig met korrupsie met die hoë rekeninge.

Nog ’n inwoner, Rosetta Beukes, sê in Januarie was haar rekening R106 en ewe skielik in Februarie moes sy R996 opdok.

“Ek het dit maar betaal, want die ander mense s’n was baie meer,” vertel sy.

Beukes sê tot haar ontsteltenis was haar rekening vir Maart R1 096.

“Toe ek gaan navrae doen, was die verskoning wat hulle gee, dat daar ’n lekkasie was.

“Hoe kan hulle vir meer as 30 mense dieselfde ding sê?” wou sy weet.

“Dis onmoontlik dat almal dieselfde probleem het.”

Beukes sê hulle is baie ongelukkig oor die munisipaliteit en die manier hoe hulle te werk gaan met die mense se rekeninge.

“Ek voel ons sit al vir jare met dieselfde probleme en gaan nie meer sit en aanvaar dat dit so is nie. Ons gaan baklei vir ons regte.

“Hier’s ’n klomp goed wat deur die jaar uitlek, maar die munisipaliteit kry elke jaar ’n skoon oudit.”

Nooi

Beukes beweer daar is baie mense wat met die probleme sit en niks word gedoen nie.

Matthew Sheldon, hoof van kommunikasie by die Bergrivier-munisipaliteit, sê hulle nooi graag enige van hulle kliënte wat met hul munisipale rekening probleme ondervind, om hul kantore te besoek sodat hulle gehelp kan word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters