11 dae gelede
Regmakery ’n reuse-raaisel
NIKS: Inwoners van dié huise beweer geen herstelwerk is daar gedoen nie.  ~ Leon Bonthuys

GOUDA. – Die Stad Kaapstad kan nie ’n reguit antwoord gee oor wie die werk gedoen het en wie betaal is om huise buite dié dorp meer waterdoeltreffend te maak nie.

Duisende rande is na verneem word uitbetaal aan ’n kontrakteur wat die werk gedoen het.

Son het egter by inwoners gehoor daar was geen werkers om aan hul huise te werk nie.

Daar is altesame 40 huise in Gouda waar mense bly wat destyds by die Voëlvleidam gewerk het.

Dit het onder die Stad Kaapstad geval.

Toilette

Son is in besit van purchase order numbers van verskeie bedrae wat betaal is aan ’n maatskappy wat ’n tender gekry het om verskeie eiendomme van die Stad Kaapstad meer waterdoeltreffend te maak.

Verlede jaar in Januarie is daar wel nuwe watermeters ingesit en toilette is reggemaak, maar dit was die werk van ’n ander kontrakteur en dit was nog voordat die lockdown begin het.

Die lockdown het in Maart verlede jaar begin en luidens fakture is daar op 30 Junie 2020 bedrae van R445 038, R278 407 en R251 911 betaal.

Die Stad Kaapstad kan egter nie sê watter werk gedoen is, wie die diensverskaffer was of wie die geld ontvang het nie.

Op 17 Junie 2020 is, volgens die fakture, bedrae van onder meer R146 692, R253 992 en R237 608 betaal, maar die Stad Kaapstad kan ook nie sê waarnatoe hierdie geld is of watter werk gedoen is nie.

Vir 30 Maart 2020 wys hierdie fakture R99 590, R59 377, R64 048, ensovoorts, is betaal, maar “niemand weet” aan wie nie.

Son het twee weke gelede begin navraag doen oor wat aangaan.

Toe Son vra wat die aard van die werk was, wie dit gedoen het en wie betaal is, het die Stad Kaapstad se amptelike terugvoer gelui: “Die tender is gebruik vir alle werk aan waterverwante retrofits-projekte.

“Al die ou watermeters is vervang en pype wat lek, is reggemaak.

“Dit is gedoen om te help met waterverlies tydens die droogte. Ander maniere om water te bespaar, is ook ingebring.

Swyg

“Die Stad het ook geld gebruik om te help met Covid-19 en die budget vir herstelwerk is gesny.

“Al die werk wat by die onderskeie sites gedoen is, is afgehandel en betaal.”

Son het uitgevind ’n ander kontrakteur het die watermeters gedoen waarvan die Stad Kaapstad praat.

Dit sluit nie die fakture in waarna Son verwys nie. Die Stad swyg nog soos die graf oor wie daai be­talings ontvang het en waarvoor.

’n Woordvoerder van die Stad Kaapstad, Luthando Tyhalibongo, sê die uitbetalings waarvan Son fakture het, stem nie ooreen met die rekords van uitbetalings van die Stad nie.

Die meeste van die in­woners wat in dié huise by Gouda bly, is pensioentrekkers wat daar moet bly totdat hulle tot sterwe kom.

Een van die inwoners het gesê sowat 10 jaar terug is die huise geverf, maar sedertdien is geen ander werk aan die huise gedoen nie.

By dié huise in Gouda is daar volgens die inwoners ook geen herstelwerk gedoen nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters