13 dae gelede
Raps oor vingers ná martelmoord
OMGEKRAP: Mense betoog met plakkate tydens Diaan Swartz se hofverskynings.  ~ Melinda Stuurman

DIE vermoorde Clarissa Lindoor (27) het meer as 30 steekwonde gehad.

Daar was bloed in haar maag en keel. As sy die steekwonde oorleef het, sou haar been afgesit moes word, so lelik was dit gebreek.

Diaan Swartz is laas week in die Stellenbosch-landdroshof tot 15 jaar gevonnis vir die moord op Lindoor, sy meisie.

Haar lyk is op 19 September verlede jaar op die plaas Nietvoorbij buite Stellenbosch in haar bed gevind. Dit was skoon afgewas en sy het slaapklere aangehad.

Die toestand van die huis wat sy en Swartz met twee ander mense gedeel het, het egter ’n ander storie vertel.

Dit was vol bloedspatsels – van die wasmasjien tot aan die mure. Buite in die jaart het ook nog bloed gelê toe Son die huis die dag ná die voorval besoek het.

Joan Gideons, Lindoor se tannie, vertel: “Ek het haar lyk gaan uitken. Daar het ek al gesien hoe sy lyk.

“Aan die linkerkant was die velle van haar gesig weg en daar was ’n groot gapende wond aan haar voorkop. Die regteroog het ook ’n wond gehad.”

Gideons sê hulle het eers in die hof die werklike omvang van die beserings gehoor. “Sy het 33 steekwonde gehad en haar been was breek geslaan.

“Hy het haar uit die huis en buite op die werf gesleep dat haar velle van haar lyf en gesig afgestroop was.

“Haar skedel was oopgekloof met ’n stomp voorwerp.

“Van haar organe was stukkend geslaan. Weens inwendige bloeding het sy aan haar eie bloed verstik. Sy is duidelik gemartel en het ’n pynlike en stadige dood gesterf.

“Die Here troos haar siel. Sy het dit nie verdien nie.”

Gideons sê Swartz het nooit berou getoon nie.

Hy is skuldig bevind aan die moord op Lindoor – én aan ’n klag van poging tot moord op ’n ander inwoner van die plaas. Hy was juis uit op borgtog vir die mesaanval toe hy Lindoor vermoor het.

Lindoor se familie sê die vonnis is ’n raps oor die vingers en spreek nie van justice nie.

“Die hele regstelsel is ’n siek flippen grap,” sê Gideons.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters