Verlede maand
Rapist mang lank
charles
Swaar gestraf: Charles Stevens is ’n allemintige 50 jaar tronkstraf opgelê.  ~ FOTO VERSKAF

ROBERTSON. – ’n Stiefpa is Donderdag, op die laaste dag van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, tot 50 jaar tronkstraf gevonnis.

Son het reeds twee jaar gelede berig Charles Stevens (68) het na bewering sy twee minderjarige pleegdogters verkrag.

Die hof het Stevens vroeër skuldig bevind aan die verkragting van die meisies (onderskeidelik 11 en 12 jaar oud).

Die streekhof het Stevens 25 jaar gevangenisstraf opgelê vir elke verkragting.

Die vonnisse sal gelyk­lopend uitgedien word.

Die twee niggies is as gevolg van verwaarlosing van hul ouers verwyder.

Die onskuldige kinders is toe in die pleegsorg van Stevens en sy vrou geplaas.

Die verkragtings het onderskeidelik op 3 Maart 2018 en 11 Maart 2018 plaasgevind.

Stevens se vrou was nooit bewus van die mishandeling en verkragting nie, want die voorvalle het plaasgevind terwyl sy geslaap het.

Die aanklaer, adv. Cherice Koert, het aan die hof gesê Stevens het die meisies gedreig dat hulle almal tronk toe sal gaan as hulle iets sê en hulle lekkers en geld belowe.

Die mishandeling het aan die lig gekom toe die 12-jarige op skool siek geword het en na ’n kliniek geneem is.

Sy het die mishandeling by ’n gesondheidswerker aangemeld. As deel van die ondersoek het die polisie ook die 11-jarige ondervra. Sy het toe ook ’n verkragtingsaak aangemeld.

’n Geregtelike mediese ondersoek in die Robertson-hospitaal het tekens van penetrasie bevestig.

Worcester se Thuthuzela Care Centre (TCC) het daartoe bygedra dat albei meisies onmiddellik uit Stevens se huis geneem en na ’n plek van veiligheid geneem is.

Adv. Cindy Abdol, saakbestuurder by die TCC in Worcester, en Cindy Jacobs, ’n koördineerder by die TCC, het met maatskaplike werkers en Robertson se kindersorg in verbinding getree om te verseker dat die slagoffers ondersteuningsdienste kry.

Koert het die vonnis verwelkom en gesê die hof gee ’n stem aan die stemloses deur die beskuldigde swaar te vonnis.

“Die plaag van geslags­geweld, tesame met sosio-ekonomiese uitdagings, is ’n werklikheid vir die landelike Bolandse gemeenskap.

“In ’n uitspraak van hierdie aard stuur die hof ’n duidelike boodskap aan die slagoffers en die gemeenskap dat hul stemme gehoor word en dat hul stemme saak maak.

“Die klaers verteenwoordig die kwesbaarste lede van die samelewing.

Borgtog

“Dit is belangrik dat ons ’n boodskap aan almal stuur dat die staat sy bes sal doen om te verseker dat hulle beskerm word,” het Koert aan die hof gesê.

Stevens is sedert sy inhegtenisneming in 2018 in aanhouding nadat Koert sy aansoek om borgtog suksesvol teengestaan het. Ná die vonnisoplegging het ’n uitgeteerde Stevens sy familie gegroet voordat hy na die selle geneem is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters