17 dae gelede
Ram(p)paartie
wedding blues: Die man sê hy is diep spyt dat die liefde van sy lewe voor die kansel moes wag. Foto ter illustrasie: iStock Images  ~ 

WORCESTER.– As jou eie rampaartie se drank jou so eina maak dat jy jou vir jou eie wedding verslaap ....

Nee, dit is beslis nie ’n dronkmanstorie dié nie.

Vra maar vir James (skuilnaam), wat die naweek ewige trou aan sy lovey moes gesweer het.

Hy het so erg aan Bacchus-siekte gely, hy kon nie sy eie troue haal nie.

James se rampaartie is Vrydagaand gehou.

Dit sou ’n laaste kuier-sessie wees saam met die ouens voordat hy die volgende dag saam met die liefde van sy lewe voor die kansel sou staan.

Maar toe drink James hom só oor ’n mik, die man is nou nog aan die uitvars.

James vertel sy strooijonker het hom Vrydag net ná tjaila-tyd gebel en gesê hy moet by hulle uitsteek.

En toe is dit meer aan as in Japan, waar die Wêreldbeker-rugbytoernooi aan die gang is.

“Toe my strooijonker ’n puntbeker met Sellotape om my hand vasmaak, het ek geweet hulle gaan my goed dronk maak.

“Ek was veronderstel om Saterdagmiddag met my aanstaande voor die kansel te gaan staan, maar toe het die drank se noodlot my hewig getref,” vertel James, wat steeds geweldige pyn ervaar.

Volgens James het sy tjommies allerhande soorte drank in die puntbeker geskink – sommer alles deurmekaar.

In die beker was uiteindelik bier, rum, whiskey en ja, selfs vaalwyn.

James sê hy was later stormdronk, maar sy tjommies het hom aanhoudend die drank laat afsluk.

“Ek het later uitgepass en toe die next dag met net my ontie aan wakker geskrik in my kar se boot, wat oopgestaan het,” vertel James steeds bloedrooi in die gesig.

Volgens hom was hy nog deur die blare en daar was ’n naar kol op sy maag.

“Ek het toe vir die toilet gehol en begin opgooi,” voeg hy skaam by.

Volgens James het hy erge steekpyne oor sy maag gekry. Hy kon geen kos inkry nie.

“Ek is reguit hospitaal toe, waar gesê is ek het alkoholvergiftiging opgedoen.

“Ek is dadelik op ’n drup gesit sodat ek reg kon wees vir my troue. Maar toe ek weer my oë oopmaak, was dit te laat en het ek my troue verslaap.”

James sê hy is diep spyt dat hy sy aanstaande voor die kansel laat wag het.

“Gelukkig verstaan sy en nou is die wedding na die komende Saterdag uitgestel sodat ek ten volle kan herstel,” vertel James verlig.

Sy verloofde wou nie kommentaar lewer nie.

Braai

Die strooijonker voel dit is sy skuld dat daar groot floppe gekom het.

“Ek het die 20 gaste reeds in kennis gestel dat hulle volgende week troue gaan hou,” sê die strooijonker.

Volgens hom is die onthaal nie baie fancy nie. James gaan net ’n braai in sy jaart gooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters