10 dae gelede
Raadsman se huis verwoes
IN PUIN GELÊ: Nigel Samuels se huis is ’n bouval nadat woedende grondbesetters dit afgebrand het.  ~ Foto Verskaf

ONRUS woed voort onder grondbesetters in Lanquedoc, Groot-Drakenstein.

Dít kom nadat die Stellenbosch-munisipaliteit die Rooimiere opdrag gegee het om Woensdag die onwettige strukture af te breek wat onlangs op ’n oop stuk grond opgerig is.

’n Inwoner wat in die behuisingsraad dien, moes die duurste prys betaal vir die grondbesetters se verskriklike woede.

Nigel Samuels (50) se huis is Donderdag in die vroeë oggendure geteiken en aan die brand gesteek.

Samuels is gebroke en hartseer oor die gruwelike dade.

Samuels sê hy het Woensdag dreigemente ontvang dat hy en sy gesin nie veilig is nie. Hulle het die plek verlaat en na familie toe gegaan – min wetend dat vlamme hul huis gaan vernietig.

Teleurgesteld

Samuels is ’n steunpilaar in die gemeenskap en hy help oral waar hy kan.

En hy dien nie net in die behuisingsraad nie, hy is ook betrokke by die gemeenskapsontwikkelingsforum en hy help gedurig met jeug-aktiwiteite.

Toe Samuels sê hoe “teleurgesteld en seer” hy is, kon Son die verdriet in sy stem hoor.

Samuels is al 50 jaar ’n in­woner hier.

KOEBAAI: Die Rooimiere breek Woensdag verskeie on­bewoonde shacks in Lanquedoc af. Foto: Verskaf

Hy sê hy het nog nooit so onveilig gevoel in die plek waar hy grootgeword het nie.

Volgens ’n anonieme bron is daar dreigemente dat die huise van nóg twee persone wat in die raad dien, geteiken word.

Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, sê hulle weet van die onrus in die area.

“Die munisipaliteit het onwettige, onbewoonde strukture afgebreek.”

Grobbelaar sê hulle weet ook van die voorval waar ’n huis gebrand het. Brandweerdienste en die nodige personeel was daar.

Grobbelaar het vroeër dié maand aan Son bevestig dit is privaat eiendom wat tans beset word.

Die munisipaliteit en die eienaars onderhandel nog oor die moontlikheid dat die munisipaliteit die grond vir behuisingsdoeleindes kan aankoop.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters