8 dae gelede
R30 koop net 1,6 units krag
SKOK: Charl Kleintjies sê hy het groot geskrik toe hy die min units sien.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Hy het sy laaste R30 gevat om krag te koop en was daarna stomgeslaan.

Charl Kleintjies van 2de Laan het laas week R30 se krag gekoop, maar toe hy op sy slippie kyk, was daar net 1,6 eenhede elektrisiteit.

Kleintjies het Son kort daarna in kennis gestel oor die bloutjie wat hy geloop het.

“Ek is ’n man met klomp kinders na wie ek moet omsien,” het Kleintjies bekaf gesê.

Kleintjies sê hy en sy gesin trek swaar en daar is skaars kos in hul huis.

Volgens Kleintjies het hy sy laaste R30 gevat om krag te gaan koop sodat sy vrou, Juliana, vir hulle ’n dite aanmekaar kon slaan.

Kassier

Kleintjies sê toe hy egter sien hoe min eenhede hy vir die R30 gekry het, het hy amper op sy rug geval.

“Ek het nog die kassier in die winkel gevra of dit regtigwaar reg is waarteen ek nou vaskyk.

“Ek word mos bevark hier. Dis niks anders as daylight robbery hierdie nie,” het hy gal gebraak.

Kleintjies sê hy is ongeskik vir werk verklaar en ontvang ’n ongeskiktheidstoelae.

Hy sê hy het ook aansoek om ’n subsidie gedoen om minder vir sy munisipale dienste te betaal.

“Toe ek gaan uitvind oor dié aansoek van my en hoekom ek so min krag kry, het ’n munisipale amptenaar net vir my gesê my papiere het weggeraak.

“Daar is toe aan my gesê ek moet eers R500 betaal en dán sal ek meer krageenhede kry. Dis mos nie hoe jy met arm mense maak nie. Armes moet altyd aan die agterste speen suig,” meen hy.

En Kleintjies is nie alleen nie. Ander inwoners, soos Jeremy Lucas, en ’n pensionaris, Anna Rooi, sê hulle word net so vir kragpoppe gevat.

Willy-John Gordon, woordvoerder vir die Langeberg-munisipaliteit, sê hul kantoor het reeds met Kleintjies in verbinding getree.

Gordon sê Kleintjies kan weer vir die subsidie kom aansoek doen omdat die afsnydatum vir aansoeke eers Junie 2024 is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters