2 maande gelede
Plekke ‘nie vir mense geskik’
GEWORRY: Abongile Cetywayo sê die hokke is glad nie veilig nie.  ~ Jonathan Lestrade

PAARL. – Die hokke is nie geskik vir mense nie– dit lyk soos hondehokke.

Só sê Wilma Willemse (59) van Hillside oor die Schoongezicht-noodbehuisingsperseel, ’n bouprojek wat twee jaar gelede begin is.

Dis baie eenders as dié van Blikkiesdorp in Delft.

“Die hokke is nie vir mense om in te woon nie. Hier is nie eens vloere gelê in die hokke nie.

Uitstaan

“Hoe kan mense oorleef in dié nattigheid?” wil ’n ontstelde Willemse weet.

Sy sê haar grootste vrees is dat mense kan siek raak.

“Wie kan oorleef in dié koue? Ons wat in huise woon, kan nie eens die koue uitstaan nie.

“So, hoe gaan hulle maak in ’n hok?” vra sy.

“Die waarde van ons eie huise gaan daal as gevolg van dié Blikkiesdorp, want ál wat mense gaan sien, is die blikke,” voeg sy by.

Son het laas maand berig oor die projek ingevolge waarvan die huidige 242 blikhuise opgerig is.

Son het gister weereens met Abongile Ce­tywayo (29) gepraat. Hy woon tans in sy neef se sinkhuis op die perseel.

Cetywayo het laas aan Son gesê hy wil ook ’n huis hê, maar in so ’n hokkie sal hy nie bly nie. Twee weke later voel hy nog steeds dieselfde.

“Die mense gaan net aan. Hulle sit nog van die hokke op. Selfs al het daar laas week twee hokke weggewaai, kap hulle net aan.

“Dit bewys net hoe gevaarlik dit is. Die een het op sy dak gestaan.

“Hierdie structures is onveilig. Ek wil nie eens weet wat sou gebeur as daar mense in was nie.”

Nuwe Blikkiesdorp: ’n Groep kinders stap deur die perseel waar die hokke opgeslaan is.

Hy sê die nat weer help ook nie en maak die hokke net kouer.

“Hierdie hokke is net ’n dop. Hoe kan ’n mens so lewe?

“Wat van ons menswaardigheid?”

Jacqui Samson, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende hoof vir beplanning, ontwikkeling en menslike nedersettings, sê die munisipaliteit bied DPC-isolasie aan vir die vloere. Die begunstigdes behartig dan die konstruksie van die vloer.

Samson het bevestig die strukture is onlangs in die ernstige storms beskadig.

Sy sê hulle het die volgende oggend daaraan aandag gegee.

“Die munisipaliteit is daagliks op die perseel en hou die situasie voortdurend dop,” verduidelik sy.

Samson voeg by die munisipaliteit weet nie van enige skade aan die strate by die ontwikkeling nie.

“Die strate is steeds onder ’n waarborgperiode.

“As daar enige skade as gevolg van ’n konstruksiefout voorkom, sal dit herstel word.”

KAP AAN: Die bouery van die hokke gaan voort.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters