11 dae gelede
Planne met hospitaal
Optimisties: Raadslid Margaret le Roux glo die daghospitaal sal verbeter.Foto’s: BOHEMIA HOFFMEESTER  ~ 

DIE noodkrete van in­woners van Grabouw het nie op dowe ore geval nie.

Die minister van gesondheid, Nomafrench Mbombo, het Donderdag alle opgraderings aan die daghospitaal in werking gestel.

Dít volg nadat inwoners al jare kla daaroor dat dié fasiliteit se dienste gebrekkig is.

As dit nie die medikasie is wat opraak nie, dan raak hulle lêers weg, moan die pasiënte. Dít, of hulle moet lank wag om gehelp te word.

Nou is ag paramedics aangestel en die noodgevalle-eenheid sal ook opgradeer word.

Die voormalige daghospitaal sal nou ook 24 uur per dag oop wees.

Dik

Altesaam R45 miljoen is vir opgraderings bewillig.

Mbombo het aan honderde pasiënte by die daghospitaal gesê gesondheidsdienste vereis spanwerk.

Sy sê die lede van die span is die regering, politici en gemeenskap, en elkeen speel ’n belangrike rol.

“As dit nie vir julle was wat julle stem dik gemaak het nie, was ons nie vandag hier nie,” het Mbombo gesê.

“As julle voortaan enige klagtes het, kan julle by julle raadslede kla. Al het gesondheid niks met hulle te doen nie, moet hulle julle help, want hulle is julle leiers.”

Minder beloftes sal gemaak word en meer sal uitgerig word, het Mbombo belowe.

Mbombo het aan die pasiënte gesê hoewel dit hulle reg is om te betoog, mag hulle nie die ambulans­dienste verhinder om hulle werk te doen nie.

“Sê nou dis een van julle familielede wat in daardie ambulans is?” het sy vir hulle ’n prentjie geskets.

“Dié dinge het ’n impak op ons almal.”

Maar van die pasiënte glo nie Mbombo se praatjies nie.

Eleanore Stone van die plaas Springdale sê sy trek nou al by haar vyfde lêer.

“Dinge is maar steeds dieselfde,” sê Stone moedeloos. “ ’n Mens sit maar steeds lank voor jy gehelp word.”

Die storie wat Josephine Filander­ van die plaas Monteith vertel, is so te sê dieselfde.

Filander sê toe sy Donderdag by die daghospitaal opdaag, was háár lêer ook weer missing in action.

“Ek is tans op TB-behandeling en moet gereeld my medikasie kry,” vertel Filander.

Raadslid Margaret le Roux vra dat die pasiënte nog net ’n bietjie geduldig moet wees terwyl dinge by die hospitaal reggestel word.

Missing

Sy sê die hospitaalwerkers gaan ook nou aanpassings moet maak.

“Die Grabouw Civic Association bedank die personeel van die daghospitaal.

“Ons bedank ook die in­woners en hulle leiers dat hulle opgestaan het om beter dienste te kry.” 

O, so? Pasiënte luister na wat Nomafrench Mbombo (nie in foto) te sê het.
pessimisties: Josephine Filander (links) en Eleanore Stone glo nie dinge by die daghospitaal gaan veel verander nie.
Optimisties: Raadslid Margaret le Roux glo die daghospitaal sal verbeter.Foto’s: BOHEMIA HOFFMEESTER
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters