2 jaar gelede
Payoff ná hul kwaai trauma
erg beseer: Percivale Malgas en Abigail de Reuck is in rolstoele nadat hulle glo aangerand is.Foto’s: BOHEMIA HOFFMEESTER  ~ 

’N NEEF en niggie van Grabouw sit nou albei in rystoele nadat Bangladesjers hulle glo aangerand het.

Abigail de Reuck en Percivale Malgas is omstreeks ’n maand gelede na bewering ’n hele nag lank aangerand nadat hulle as skelms aangesien is.

Hulle sê hulle is met ’n ysterpaal, baseball bat en knopkieries geslaan.

Malgas se hakke is so erg gebrand, jy kan tot op die been sien.

Die twee is duidelik nog erg getraumatiseer en sukkel om met hul rolstoele oor die weg te kom.

De Reuck kla: “Jirre, die stoel gee my sommer ’n diep pyn in my hart.

“Ek het sommer die krukke stukkend gedonner, want ek kan nie loop daarmee nie.

“As die dokters darem eendag moet sê dat ek nie weer kan loop nie, maak ek myself dood.”

De Reuck sê sy en Malgas het geloop en stry toe hulle twee ouens sien verby hardloop.

Die volgende oomblik kom die Bangladesjers uit en gryp hulle.

Sy vertel: “Hulle het in hul taal gepraat en toe gryp twee hom en een vir my.

“Hulle het ons in hul plek geforce en sommer begin slaan.

“Hulle het gevra waar die karbattery en die tape is.

“Hoe meer ons gesê het ons weet nie, hoe harder het hulle begin slaan.

“Die een ou het my neef met ’n burner gebrand.

“Dit was so erg dat hy gemaak het asof hy dood is.

“Hulle het paniekerig geraak toe hulle dink hy is dood. Hulle het my toe gesê om hom te roep.

“Hulle het in ’n kamer gaan praat en teruggekom.”

De Reuck sê toe die Bangladesjers hulle uit die winkel smyt, het hulle dadelik om hulp geroep, maar niemand het hulle gehoor nie.

‘Vrek’

Daarna is hulle in ’n bakkie gelaai terwyl die een ’n gun vasgehou en hulle met die dood gedreig het.

Malgas sê hy het gesien hoe hulle gaan “vrek” en hy het toe uit die bewegende bakkie gerol.

Daarna is De Reuck ook langs die N2 uit die bakkie gegooi.

By Son se besoek gister het die Bangladesjers twee mans gestuur om met De Reuck en Malgas te onderhandel.

Albei het tydens die geleentheid ingestem op ’n kontantbedrag van R50 000 voordat hulle die saak sal terugtrek.

’n Polisiewoordvoerder, lt.kol. Andrè Traut het bevestig die polisie ondersoek ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook ’n saak van ontvoering.

Traut sê: “Die verdagtes is gearresteer en sal vandag in die Grabouw-landdroshof verskyn.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters