9 dae gelede
Pastoor: Byt vas in dié tyd
VOLGEPAK: Talle mense het opgedaag vir die roudiens vir Zara Malherbe en Jade Gouws.  ~ Foto Verskaf

AS ’N mens in ’n storm is, kan jy nie jou uitkoms sien nie. Maar al is die lewe nie altyd maklik of lekker nie, sal dinge beter raak.

Dít is die raad van past. Etienne van Heerden, ’n motivering­spreker, aan jong mense en leerders.

“Jy moet net vir ’n klein rukkie vasbyt,” voeg Van Heerden by.

Die pastoor se woorde van bemoediging kom nadat twee leerders van die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl verlede week hul eie lewe geneem het.

Van Heerden sê daar is ’n klomp faktore wat daartoe kan bydra dat iemand hul eie lewe wil neem.

“Die grendeltyd weens die pandemie het dinge ook nie makliker gemaak nie.

“Mense het hul werk verloor en almal se lewe soos dit was, is omvergegooi.

“Dit lei dan tot spanning in huishoudings. Dan het die leerders die eksamendruk ook nog en hulle moet onder dié omstandighede leer.”

Hy sê dit is selde dat mense net op ’n dag besluit om hul lewe te neem.

“Gewoonlik loop dié mense al ’n lang tyd met ’n gevoel van verwerping of die uitdaging van boelies.

Luister

“Kinders kan verskriklik wreed wees sonder dat hulle dit besef. Baie van hulle ken ook nie die verskil tussen ’n grap maak met iemand of ván iemand nie.”

Hy sê dit is uiters belangrik dat ouers nader aan hul kinders beweeg: “Moenie jul verhouding as vanselfsprekend aanvaar nie.

“Maak moeite en luister na hulle. Kyk uit vir tekens en uitsprake soos ‘Ek wil nie meer lewe nie.’ ”

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement sê vanjaar was uitdagend vir alle ouers, leerders en onderwysers.

“Dit is belangrik dat die leerders weet daar is hulp vir hulle,” sê die departement se Kerry Mauchline.

Leerders kan die departement se Safe Schools Hot­line bel by 0800 45 46 47.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters