6 dae gelede
Paar ‘is naar’
TUISTE: Die paartjie bly in die armoedige hokkie (regs) waar hul baba ook saam met hulle gebly het.  ~ Kallie Smit

SARON. – As stank vir dank ooit mense was, dan was dit nou hiérdie couple.

Mense wat gedink het hulle doen goed, het ’n groot skok gekry toe hulle uitvind hul omgee word glad nie waardeer nie.

Die inwoners het uitgereik na ’n couple ná die dood van hul baba op 11 Julie. Die baba was net ’n maand oud.

Hennie de Bruin (37) en sy girlfriend, Edwena Stevens (25), bly onder haglike omstandighede in ’n piepklein hokkie op die jaart van De Bruin se oom Jannie Fryster.

Die baba het siek geword omdat die hokkie nie ordentlike beskutting teen die gure weer bied nie. Die baba is ook in dié blyplek gebore.

Die struktuur is só klein, ’n mens moet in en uit kruip.

Hannes Smit, die plaaslike raadslid, het aangebied om ’n ordentlike struktuur vir die couple te help oprig.

Hy vertel: “Ek moes eers toestemming kry by die erf se eienaar, wat in Koringberg bly, om dit te doen.

“Hy sê toe hy soek nie vir De Bruin en Stevens op sy plek nie.

“Ek is toe weer Saterdag na die twee toe om vas te stel of ek met die begrafnis kan help soos ek al voorheen gedoen het met gevalle wat aan die vereistes voldoen.

“Toe ek die baba se ma vra waarom sy van haar vorige blyplek weg is, raak sy onbeskof. Toe loop ek maar.”

Patrick Marsh het Vrydag op ’n WhatsApp-groep skenkings vir die couple gevra.

Die volgende dag is komberse en hampers by hulle afgelewer.

Son is Maandag saam met Marsh na die couple.

Hulle het nog geslaap en ná ’n lang gewag en geroep kon ’n mens hoor De Bruin sê vir Stevens sy moet opstaan, maar sy’t geantwoord: “Nee f*k, man, G*d!”

Kerm

De Bruin het later by die hokkie uitgekruip en toe eers rustig ’n number one gaan doen en met ander mense op die jaart gechat ... niks gepla met Son en Marsh nie.

Hy was nie baie lus vir praat nie en het net gesê hulle weet niks van die begrafnisreëlings of die nadoodse ondersoek nie.

Op ’n vraag of De Bruin-hulle dan nie belangstel nie, het hy gesê: “Moenie kerm op my kop nie, asseblief.”

Stevens het deurentyd gekruide taal van onder die snoesige komberse wat aan hulle geskenk is, na Son en Marsh geslinger. Toe sy weer skree: “Die donners!” sê Marsh: “Jy’s nou klaar gehelp, nè? Nou’s jy hardegat.”

Mense wat van die skenkings en die oprig van ’n blyplek vir die twee te hore gekom het, het heftig kapsie gemaak daarteen.

Daar word beweer die twee is op dwelms. Toe Marsh vrae hieroor stel, het De Bruin nie geantwoord nie. Marsh het toe vir de Bruin gesê hy gaan hulle nie verder help nie.

Mense het gevoel die wendy waarin Fryster se eks en sy drie kinders en kleinkind bly – en wat besig is om uitmekaar te val – moet liewer reggemaak word.

Stevens het ’n reputasie vir haar vieslike maniere.

Sy het eers by haar antie in ’n wendy gebly, maar Anna van Wyk (63) sê Stevens was so onbeskof dat sy en haar man haar die trekpas gegee het.

Stevens se vier ander kinders is deur die welsyn in Van Wyk se sorg geplaas en antie Anna sê toe hulle laas week met die welsynwerker oor die kinders vergader, het Stevens haar opgeruk en geloop.

Antie Anna sê: “Ek het Maandag laatoggend vir hulle gesê hulle moet opstaan en gaan werk sodat hulle hul baba kan begrawe.

Tref

“Toe skel Edwena my liederlik uit. Sy het my laas week tot onder my ma se rok uitgevloek. Dit het my baie hartseer gemaak.

“Ek moet nou rondloop om hul kind se begrafnisreëlings te tref terwyl hulle niks daarmee te doen wil hê nie.

“Maar ek doen dit oor die Vader wil hê ’n mens moet omgee vir mekaar.”

Gerhard Carstens van Carstens Begrafnisdienste in Piketberg het ook uit sy pad gegaan om die couple te help.

Carstens sê hy het ál sy vervoerkoste uitgesny en ook ’n mooi woordjie by die krematorium ingesit om die paartjie tegemoet te kom omdat ’n begrafnis nog ekstra geld sou kos.

Carstens sê ’n agent van hom wat die familie ken, het intussen die minimale koste gedra.

Hy sê die doodsertifikaat dui aan die baba is aan longontsteking oorlede.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters