9 dae gelede
Paaie kruis ná 40 jaar weer
blye weereens: Andrew en Hendrieka Stevens is oorstelp toe hulle hulle pa ná dekades weer sien.Foto’s: eldridge jason  ~ 

PIKETBERG. – As jy jou pa die eerste keer ná 40 jaar sien, dan kan die trane nie anders as om te vloei nie.

Paul Stevens (77) se twee kinders, Hendrieka en Andrew Stevens, het hom ’n volle vier dekades laas gesien toe hulle nog in Augrabies in die Noord-Kaap gewoon het.

Hendrieka was ’n skrale 10 jaar oud toe haar pa eendag net uit haar lewe uit is.

Die volgende 40 jaar het die verlange na haar pa binne-in haar geskroei.

Sy was so siek van soek en verlange, sy het al in die hospitaal beland.

Tot Saterdag. Toe was die tegnologie van vandag die antwoord op al haar gebede. Hendrieka kon toe haar pa van aangesig tot aangesig sien.

Toe oom Paul sy kinders laas gesien het, het Facebook nog nie bestaan nie. Tog het dié sosialemedia-platform hulle herenig.

Oom Paul onthou die dinge van die ver­lede nie meer so lekker nie. Hy het net geweet sy kinders bestaan, sy reise vir werk het hom na verskeie plase in die Wes-Kaap gevat het en hy wou sy kinders nog graag weer voordat hy sy oë vir goed toemaak.

Jerome Smit het dié droom vir die gryse oom moontlik gemaak.

Jerome vertel: “Oom Paul se vrou, antie Lenie, is familie van my. Ek het eendag op die plaas by hulle gekuier toe oom Paul my van sy verlange vertel.

Uitgeroep

“Ek het oom Paul record en dit op Facebook gepost. Ná skaars 24 uur toe laat weet Hendrieka dis die pa na wie sy soveel jare soek.”

Toe Hendrieka en Andrew oom Paul Saterdag ná soveel jare sien, het hulle albei uitgeroep: “My pa, my pa!”

Die trane het oor Andrew se wange geloop. Hy het gesê: “Ek het altyd Kaap toe gehike en baie­male verby Piketberg gereis. Nooit het ek gedink my pa bly hier iewers nie.”

Hendrieka het haar pa vertel oor almal wat met ’n seer hart na hom verlang.

Oom Paul het elke bietjie info wat hy oor die jare misgeloop het, met kinderlike entoesiasme ingedrink.

“My pa moet saam ons na Augrabies gaan,” het Hendrieka versoek. “En antie Lenie. Ek is dankbaar dat sy en haar familie baie mooi na my pa gekyk het.”

En toe is daar lank oor koffie, tee en tert gekuier om 40 jaar se verlore tyd in te haal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters