Verlede maand
Pa spog met yslike patat
MASSIEF! André Smith, oftewel Pa-Beer, spog met die reuse-patat wat sy tuintjie opgelewer het.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Pa-Beer is soos sy familie hom roep.

Nou spog hy met die grootste patat wat hy uit sy eie tuintjie gegrou het.

André Smith, of Pa-Beer, se pragtige gesin is ewe trots op hom.

Selfs die kleintjie na wie die gesin omsien, het uit opgewondenheid na die tuin gehol net om te sien hoe die nuwe patat mooi en vars uit die grond gespit word.

Die kleintjie het sommer met die patat begin speel asof dit ’n teddiebeer is. Pa-Beer se ander patats wat hy begin uitgrou het, het haar nie aangestaan nie.

Smith, die patatboer, is baie lief vir tuinmaak.

Smith sê jy moet ’n gevoel vir die job en die grond hê.

Hy vertel: “Jy droom miskien soos ek, op ’n Bee Gees song, hoe jy jou grondjie gaan voorberei, hoe jou oesie gaan lyk en dan dink jy aan niks anders nie.

Staar

“Wees net gefokus op hoe jy daai tuin nat hou en die result is altyd ’n groot plesier, veral op my ouderdom.”

Mense wat verby sy huis loop, staar altyd na sy tuin.

Party wil so graag een van sy bloedrooi rose hê, maar hy sê dis sy vroulief s’n.

Smith was jare lank ’n werker by die plaaslike hospitaal. Ná sy aftrede het hy hom op sy gesin en natuurlik op sy mooi tuin gefokus.

“Stilsit kan ek nie. Dis nou tyd om my woema te wys. Kyk hoe mooi lyk my patat, net oor ek aandag gee,” spog hy.

Die Smith-gesin glo die lewe werk ook soos hul mooi tuintjie.

“As jy jou gesin en familie net soos die tuin met die grootste respek behandel, sal alles mos floreer.”

Smith sê hy het ses maande gelede die patatsaad gesaai en die resultaat is ’n bielie-oes!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters