Verlede maand
Outjie sterf in touchies game
jaydenlee daniels
Jayden-Lee Daniels se vriende vertel hulle gaan hom mis.  ~ Facebook

TULBAGH. – Die dood van ’n leerder het die gemeenskap hier in rou gedompel.

Jayden-Lee Daniëls (19) is Dinsdag dood nadat hy op die skoolterrein seergekry het.

Jayden-Lee, ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Waveren, het saam met sy vriende op die skool se speelterrein touch rugby gespeel toe die voorval in die pouse gebeur het.

Jayden-Lee het sedert sy ma se dood ses jaar gelede by sy oom op die plaas Morgansvlei net buite die dorp gewoon. Hy is oorspronklik van Wolseley en het gereeld daar by sy pa gaan kuier.

Charney van der Merwe, sy niggie, vertel een van Jayden-Lee se maats het die bal na hom toe gepass en toe hy omdraai om die bal te vang, het hy geval en sy kop het die grond getref.

Hy is na die siekeboeg geneem, maar hy was so ernstig beseer dat ’n onderwyser hom na die kliniek geneem het.

’n Dokter het hom vergeefs probeer bybring, maar die seun het aan sy besering beswyk.

Almal met wie Son gepraat het, het met groot lof van Jayden-Lee gepraat en was baie geskok oor sy dood.

Sy niggie sê: “Jayden was ’n gehoor­same seun en baie vriendelik. Hy het nooit gehuiwer om ander te help nie. Hy het baie vir ons in die huis gedoen.

“Hy was baie lief vir sport, veral rugby, en hy het elke dag geoefen om sy liggaam op te bou. Hy het gereeld gaan oefen by die gym, waar hy ’n lid was.”

Jayden-Lee het soms casual werk by Spar gedoen waar sy oom en niggie ook werk.

Anthea Ehrenreich, admin-bestuurder wat saam met hom gewerk het, sê: “Jayden was ’n pragtige mens. Hy was baie voorbeeldig en het ’n mooi persoonlikheid gehad. Hy was altyd op sy plek.

“Nadat Jayden se dood bekend geword het, het een van ons klante gebel om uit te vind of dit ‘die outjie is wat altyd so vriendelik en behulpsaam was’.

Roudiens

“Dit is om hierdie rede dat hy so bekend en gelief in ons dorp was.”

Jayden-Lee se familie het Dinsdagoggend ’n roudiens by die skool bygewoon wat vir hom gehou was.

Sy oom Ruiter van der Merwe (66), wat na hom omgesien en ook die diens bygewoon het, sê die vermoede is dat Jayden-Lee se kop ’n klip getref het wat uit die grond gesteek het.

Oom Ruiter het baie bewoë geraak toe hy met Son oor sy susterskind praat: “Hy was soos my eie seun. Jy kon nie vir ’n beter kind gevra het nie.

“Hy was ’n goeie kind wat baie gehoorsaam was met liefde vir almal.”

Bronagh Hammond, Wes-Kaapse onderwyswoordvoerder, het die voorval bevestig.

Hammond sê die skool en gemeenskap is platgeslaan en verslae oor die voorval.

Sy sê die oorsaak van Jayden-Lee se dood is nog onbekend en ’n nadoodse ondersoek sal meer lig hierop werp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters