18 dae gelede
Ouma Griet volle 115, nie uit
GROOT MYLPAAL: Ouma Griet Maritz is nou ’n volle 115 jaar oud.  ~ Foto Verskaf

TOUWSRIVIER. – Familie en vriende het die week ’n fancy paartie gegooi vir die oudste inwoner in dié dorp wat haar 115de verjaardag gevier het.

Ouma Griet Maritz was so oorweldig deur die hele gedoente en ál die aandag – sy was die heeltyd net all smiles.

Die paartie is gehou by die AGS-Tehuis vir Bejaardes, waar ouma Griet die afgelope ses jaar woon.

Ouma Griet se broerskind Diena Skiffers sê aan Son ouma Griet is op 27 September 1906 op die plaas Saaiplaas in die Sutherland-distrik gebore.

Volgens Skiffers is ouma Griet die oudste van 18 kinders.

In latere jare, sê Skiffers, het ouma Griet Touwsrivier toe verhuis waar sy in die woonbuurt Steenvliet gewoon het.

Sy sê ouma Griet self het altesame 10 kinders gehad van wie drie nog lewe.

Kuier

Skiffers sê ouma Griet het ál die jare huishulpwerk op plase gedoen.

Sondag het familie van ouma­ Griet van die Kaap vir haar kom kuier.

Maandag, op haar birthday, was sy (Skiffers), haar seun, Zaco, haar pa, Abraham, en Gertruida Maritz – ’n dogter van ouma Griet – en talle ander hooggeplaastes van die gaste by die paartie.

Skiffers sê benewens die feit dat ouma Griet in ’n rolstoel sit omdat sy sukkel met artritis in haar bene, skort daar absoluut niks verder met haar gesondheid nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters