5 dae gelede
Ouma amper dood onder ’n lorrie
onder pyn: Ouma Shirley Cupido is dankbaar dat sy die ongeluk oorleef het. Foto: basil davids  ~ 

ASHTON. – Dit is net ’n wonderwerk dat ’n ouma nog leef nadat ’n lorrie haar omgery het.

Ouma Shirley Cupido (82) vertel terwyl sy op haar enkelbed lê hoe sy Vrydagoggend dorp toe gestap het.

“Ek is by die apteek in en daarna na ’n klerewinkel om iets te gaan koop. Toe het ek terug huis toe geloop,” sê Cupido nog in pyn.

Volgens haar was die R62-pad waaraan daar gewerk word, druk van die verkeer.

“Ek het gewag dat die hope karre verbyry voordat ek die pad sou oorsteek.”

Veilig

Volgens haar het ’n padwerker met ’n vlaggie die verkeer gereguleer.

Dié het haar gesê om nog nie die pad oor te steek nie, want daar het nog verkeer aangekom.

“Sy het haar vlaggie gewaai en toe aan my gesê dat dit nou veilig is om die pad oor te steek.”

Cupido sê toe sy in die middel van die pad kom, het sy nie die lorrie gesien nie.

“Dit het gevoel asof iets my hard skop dat ek deur die lug trek.”

Cupido sê sy het toe onder die lorrie beland en alles het voor haar pikdonker geword.

“Ek het na die Here geroep om my te help,” sê Cupido in trane.

Paramedici

Volgens haar het sy al haar krag ingespan en onder die trok uit na veiligheid gerol.

Die paramedici het eers ’n uur later opgedaag en Cupido na die Montagu-hospitaal vervoer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters