2 maande gelede
Ouers weet nie
hartseer: Nimrod Oerson en Margeret Visser sit blomme op hulle baba se graf.Foto’s: basil davids  ~ 

BONNIEVALE. – ’n Paartjie se twee weke oue dogter is sonder hulle medewete begrawe.

Hieroor is Margeret Visser (37) en Nimrod Oerson (47) diep ongelukkig.

Visser sê sy het op 17 Januarie die lewe geskenk aan kleine Georgina.

Op 27 Januarie het die babameisietjie aan ’n suikeraanval gesterf.

Georgina se liggaampie sou by ’n lykhuis gehou word totdat die couple geld kon kry om vir haar ’n ordentlike begrafnis te hou.

Visser vertel hartseer hulle het onlangs die slegte nuus ontvang dat Georgina op 28 Februarie in Robertson begrawe is. Sy sê in trane: “Ons was baie geskok toe ons die nuus hoor.”

Volgens haar sou hulle wyksraadslid, JJJ Januarie, hulle nog help om Geor­gina onder die grond te kry.

Januarie was net so verbaas oor die gebeure.

Die raadslid het aan Son gesê hy het die begrafnis gereël en selfs finansiële hulp gekry.

Hy vertel geskok: “Die onderneming wat die begrafnis gedoen het, het sommer die kind sonder die ouers se medewete gaan begrawe.”

Volgens Januarie het almal eers verlede week daarvan te hore gekom dat klein Georgina reeds op haar ewige rusplekkie in Robertson se begraafplaas is.

Visser en Oerson het hulle kind se graf ver­lede week gaan besoek.

Langs die graffie het die trane geloop.

Die couple voel bitter omdat hulle graag hulle kind self wou begrawe het.

Januarie sê hy gaan nou maar aansoek doen dat Geor­gina se liggaam opgegrawe word en dat sy in haar tuisdorp, Bonnievale, ter ruste gelê word.

’n Dame by Fern Funerals, Wilma Wehr, het verduidelik wat gebeur het.

Volgens Wehr kon sy nie Georgina se ouers opspoor nie. Sy het toe opdrag gekry om einde Februarie ’n armlastige begrafnis te hou.

Visser sowel as Oerson is verslae.

Die paartjie hoop nou maar Georgina se liggaam kan opgegrawe en in Bonnievale begrawe word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters