3 maande gelede
Ouers rafel uit
WYS: Die ouers is nie tevrede met die skoolhoof nie.  ~ 

ROBERTSON. – Gemoedere het vroeër vandeesweek by Vergesig Primêr hoog geloop.

Die ouers wou met die vuis onder mekaar inklim.

Die situasie het so erg uitgerafel dat die een die ander die p-woord toegesnou het.

Die cops moes die skreeuende ouers tot orde roep.

Dit was nadat die ouers onlangs aangedring het ’n nuwe skoolhoof moet van buite die dorp aangestel word.

Besluite

Sedertien is daar nog geen terugvoer aan die ouers gegee nie.

Die ouers sê hulle moes Dinsdagaand met die beheerliggaam vergader, maar dié het nie uitgesteek nie.

Woensdagoggend was die gort toe behoorlik gaar.

Die ouers het reeds douvoordag die ingang van die skool versper sodat die leerders en onnies nie toegang kon verkry nie.

’n Ouer, Danovan Robertson, het twee laities in die skool.

’n Erg ontstelde Robertson sê die situasie ruk nou lelik handuit.

Robertson meen die ouers tree nie reg op deur die kinders en hulle onnies nie by die skoolperseel in te laat nie.

Robertson gryp toe ’n ander ouer vas en die omstanders moes net keer dat hulle nie appels swaai nie.

Die polisiebeamptes het die leerders gevra om na hulle klaskamers te gaan, want die kinders skryf tans eksamen.

Peter Hamilton, ’n ouer, sê hulle wil die kinders met hulle onnies nie by die skool hê voordat daar ’n ander hoof van buite die dorp aangestel is nie.

“Ons weet niks wat die besluite is nie. En dinge word van ons weerhou,” voer Hamilton aan.

Diana Mfgnes sê ’n onnie het haar met sy kar platgery toe sy ook die hek versper het.

Sy sê sy’t ’n heupoperasie ondergaan en verduur geweldig pyn.

“Ek gaan ’n klag by die polisie lê,” waarsku Mfgnes onder pyn.

Kol. John Alexander, die plaaslike stasiebevelvoerder, het die ouers mooi gevra om na die personeel­kamer te beweeg waar daar dan ’n meeting tussen die ouers en Nico Solomon, kringbestuurder, sal plaasvind.

Solomon het orde gevra en die ouers het ingestem.

Daar kon die ouers insette lewer. Hulle sê die skool is in dié stadium onstabiel.

Solomon het notas gemaak van ál die ouers se insette.

Jeremy Lucas, wat ook ’n ouer is, het die aanwesiges gevra om ’n vergadering vir later (gisteraand) te belê sodat daar ’n finale oplossing oor die hoof issue gevind kon word. Ál die ouers het toe ingestem.

Die leerders was gister­oggend kort ná die groot drama terug in hulle klas­kamers en het daarna eksamen begin skryf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters