22 dae gelede
Ouers raadop oor boelies
ERG ONTSTELD: Ouers kla dat hulle kinders by die Wolseley Sekondêre Skool geboelie word.  ~ Google Street View

’N BOELIEVOORVAL by die Sekondêre Skool Wolseley het al daartoe gelei dat ’n leerder sy testikel verloor.

’n Medeleerder het hom na bewering onlangs in die lies geskop en hy moes ’n noodoperasie ondergaan waartydens een van sy testikels verwyder is.

Volgens ’n bron het ’n leerder se knieskyf uitgehaak tydens ’n onderonsie wat by dié skool plaasgevind het. Nog ’n seun is onlangs met ’n skêr in die hand gesteek.

Getakel

Dié leerder sukkel nou nog om sy beseerde hand te gebruik.

In die jongste voorval is ’n leerder se kop oopgesny toe hy teen ’n lessenaar gestamp is.

’n Gr. 9-leerder face nou ’n klag van aanranding.

Die boelie het na bewering die klasmaat voor ander leerders in die klas met die vuiste getakel. Hy het die leerder se kop teen ’n bank gestamp en die leerder verskeie kere geskop en getrap.

Die proefonderwyser was ten tyde van die voorval nie in die klas nie. Die onderonsie het begin toe ’n ander leerder aan die slagoffer gestamp en op sy boek gemors het. Volgens die slagoffer se ma het haar seun toe vir dié leerder gesê sy moet kyk wat sy doen.

Die boelie, wat agter in die klas sit, het toe opgestaan en hom begin rondstamp.

Die leerder se omgekrapte ma sê: “Hy het vir my seun gesê: ‘Moffie, hou jou bek.’

“Hy het toe my seun gestoot dat hy met sy kop teen die tafel val.

“Toe hy op die vloer lê, het hy hom verder geskop en getrap.

“Die onderwyser was buite die klas toe dit gebeur het. Hy het die leerders na die hoof se kantoor geneem.

“Hulle het net ’n pleister op sy wond gesit en gemaak asof dit niks is nie.

“Ek het ná skool my kind dokter toe geneem en hy het twee steke ontvang.

“Daarna het ek ’n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak.”

Die ma sê die skoolhoof vee alles onder die mat in.

Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die onderwysdepartement, is die kringbestuurder nie bewus van die voorvalle nie, maar hulle sal ondersoek instel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters