10 dae gelede
Ouers: Kind sou nie sy lewe vat
PLATGESLAAN: Anna en Jeffrey Filander sê hulle sluk swaar aan die storie dat hul seun homself met ’n kondoom opgehang het.  ~ Basil Davids

MCGREGOR. – ’n Jong man is met ’n kondoom aan sy nek dood in die aanhoudingsel gevind.

Die ouers van Edward Arendorf (27) is stomgeslaan en soek antwoorde nadat hulle verneem het Arendorf het hom na bewering gehang.

Arendorf se emosionele daddy, Jeffrey Filander, het gister met trane in sy oë gesê hy kan tot op hierdie uur nie glo dat Arendorf homself gehang het nie.

“Iets is nie pluis nie. My kind sou nooit tot só ’n daad oorgegaan het nie. Ek ken my kind,” het Filander gesê.

Volgens Filander het hy Sondag kort ná 15:00 vanaf die cop shop se kaptein die tyding ontvang dat hy onmiddellik na die stasie toe moet kom omdat Arendorf hom gehang het.

Filander sê toe ’n cop hom na die aanhoudingsel neem, het sy seun nog net daar op die grond gelê.

Die pa vertel na aan trane: “Edward het net sy trunk­ie aangehad. Ek het ook gesien dat ’n groen T-shirt oor sy nek slap gehang het en om sy nek was ook ’n gebarste kondoom met die rek daaraan.”

Rede

Volgens Filander kon hy nie aan sy seun vat nie; hy is weggehou van Arendorf se liggaam.

“Ek wou nog weet oor die kondoom wat aan sy nek is, maar niemand kon my antwoorde gee nie.

“My seun sou homself nooit ophang nie, want hy het geen rede daarvoor gehad nie,” sê Filander.

Volgens die bedroefde pa is dit ook onmoontlik dat ’n persoon hom in daai sel kon ophang.

Filander verduidelik die ceiling is baie hoog en aan die vensters is ’n sif.

Nie eens ’n skoenveter sal daardeur kan gaan nie.

Filander se vrou, Anna, sê in trane Arendorf is onlangs uit die tronk vrygelaat.

“Edward ken van tronk. Hoekom sal hy hom nou juis nou in ’n polisiesel kom ophang?

“Ek twyfel nog elke minuut,” voeg Anna huilend by.

Volgens die egpaar het hulle verneem hul seun is vroeër die dag vir diefstal in hegtenis geneem.

Arendorf is toe opgesluit en sou Maandag in die hof verskyn.

Filander sê hy wil nou agter die waarheid kom oor wat regtig in daardie sel gebeur het.

Sers. Hendrik Willemse, ’n woordvoerder van die polisie, het bevestig ’n man is dood in die aanhoudingsel gevind.

Volgens Willemse het die man homself gehang.

Die woordvoerder het ook bygevoeg die voorval word ondersoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters